Die laaste naweek van deelname aan die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks het op ‘n hoogtepunt geïndig.
In Bloemfontein het die Hoërskool Jim Fouché (JF) teen die Hoërskool Trio van Kroonstad meegeding, en op die Hoërskool Sentraal se sportvelde het dié skool teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) gespeel.
Hoërskool Fichardtpark het die naweek na Welkom gereis om teen die Hoërskool Goudveld mee te ding.

By JF op Saterdag 1 Augustus is 11 netbalwedstryde, 10 hokkiewedstryde en nege rugbywedstryde beslis.
Dit was ‘n baie goeie dag vir JF op die netbalbaan, waar dié skool al die wedstryde van die dag gewen het. Die eerste span het
gewen met 46 doele teenoor 18. Miqnia Coetzee van JF was speler van die wedstryd.
In nood van ‘n reserwe-verdediger het Mekayla Alberts, ‘n o.14D-speler, vir die o.14B-span ingestaan. Sy het die afrigter se instruksies so goed gevolg dat sy talle onderskeppings geneem het.

Eweneens het JF al vyf die seunshokkiewedstryde gewen. Die eerste span se wedstryd was naelbyt tot aan die einde. Albei spanne het om die beurt kort ná mekaar punte aangeteken, maar JF het koning gekraai met Werleo Deetlefs wat hom goed van sy taak gekwyt het.
In meisieshokkie het die eerste span met 2 – 1 teen Trio gewen. Die speler van die wedstryd was Lomé Nel van JF, wat altwee doele aangeteken het.
Angelise Smith en Minke Labuschagne het ook goeie wedstryde gehad en hul 50ste wedstryd vir die skool se eerste span gespeel.
Dit was ‘n strawwe dag op die rugbyveld. Die eerste rugbyspan van JF het Trio met 34 – 31 geklop. JC van Niekerk, wat twee drieë gedruk het, is as die speler van die wedstryd aangewys.
Die wedstryde op Sentraal se velde het Vrydag al met die hokkie begin; met rugby, netbal en die res van die hokkie wat Saterdag beslis is.
Een van die hoogtepunte was die taai wedstryd tussen die eerste rugbyspanne. Sentraal het met 38 – 17 gewen.

Die meisieshokkie-wedstryd het in ‘n 1 – 1 gelykopuitslag geëindig. Altesaam agt hokkiewedstryde is gespeel, met nog wat steeds moet plaasvind.
Sentraal se eerste netbalspan het vasgeval teen Voortrekker, wat immers ook die Vrystaatkampioen is. Sentraal se spelers het tot die einde geveg om die gaping te laat krimp, maar die wedstryd met 37 – 43 verloor.
Die eerste rugbyspanne het ‘n aanskoulike wedstryd gespeel. Lehanco Malan is as speler van die wedstryd aangewys. Nege wedstryde is gespeel, waarvan Voortrekker agt gewen het.
In Welkom het die wedstryde tussen Fichardtpark en Goudveld gehaltespel en spangees opgelewer. Fichardtpark het die eerstespan-rugbywedstryd met 40 – 12 gewen.
Fichies se seunshokkiespanne het in die meeste ouderdomsgroepe oorheers, met Goudveld se tweede span wat uitgeblink het met ‘n goeie oorwinning.
Goudveld se meisieshokkie en netbal het weer op hul tuisvelde die dag oorheers.
Die algehele wenners van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks sal binnekort aangekondig word.







You must be logged in to post a comment.