Bram Fishcer-gebou
Die Bram Fischer-gebou of glaspaleis is die tuiste van die Mangaung-metro se administratiewe kantore. FOTO: Lientjie Mentz

Mangaung ook sonder fondse van Nasionale Tesourie

,
Bram Fishcer-gebou
Die Bram Fischer-gebou of glaspaleis is die tuiste van die Mangaung-metro se administratiewe kantore. FOTO: Lientjie Mentz

Die Mangaung-metro is een van die 69 munisipaliteite oor die land heen waarvan Nasionale Tesourie besluit het om fondse vir Julie te weerhou. Die stap raak 16 van die Vrystaat se 19 munisipaliteite.

Armand Cloete, FV Plus-wetgewerlid, sê die stap sal inwoners wat reeds onder swak dienslewering gebuk gaan, verder benadeel.

Nasionale Tesourie het in ’n nuusverklaring Dinsdag aangekondig dat befondsing weerhou gaan word in ’n poging om onreëlmatige en vermorste uitgawes te keer.

Die besluit raak meer as ’n kwart van die land se 257 munisipaliteite en kom nadat wydverspreide finansiële wanbestuur op plaaslike regeringsvlak plaasgevind het.

Cloete sê die VF Plus steun streng finansiële dissipline, maar wil beklemtoon dat dissipline weinig beteken wanneer amptenare en politieke ampsdraers jaar ná jaar onwettige, onreëlmatige en vermorste uitgawes veroorsaak sonder enige aanspreeklikheid.

“In ANC-beheerde munisipaliteite word komitees soos die munisipale openbare rekeninge-komitee (MPAC) dikwels verhinder om behoorlik te funksioneer. In stede daarvan dat vermorste fondse ondersoek en verhaal word, word verliese bloot afgeskryf. Só word kaders beskerm, terwyl inwoners die rekening betaal.”

Die voorsitter van Mangaung se MPAC, Itumeleng Makoloane, het Maandag 29 Junie tydens die raadsvergadering bedank.

In ‘n verklaring uitgereik deur DA-raadslid Tjaart van der Walt op 1 Julie, het die DA gesê hulle verwelkom die bedanking van MPAC se voorsitter. “Die DA het vir meer as ‘n jaar deurlopend kommer uitgespreek oor MPAC se funksionering en doeltreffendheid,” sê Van der Walt.

“Ons het herhaaldelik aangedring op sterker leierskap, toesig, verbeterde bestuur en ‘n komitee wat in staat is om die administrasie aanspreeklik te hou vir openbare finansies,” het Van der Walt gesê.

Cloete sê die tesourie straf met hierdie weerhouding nie die ANC nie, maar elke huishouding wat sonder water en elektrisiteit sit, elke onderneming wat sy deure moet sluit omdat die munisipaliteit nie betaal nie en elke inwoner wat deur slaggate moet ry en aan misdaad blootgestel word.

Volgens die verklaring van tesourie het die munisipaliteite voldoende skriftelike kennisgewing ontvang en is aangespoor om maatreëls te tref om hul finansiële bestuur te verander. Daar is ook aan hulle ‘n platform gegee om skriftelik redes in te dien waarom hul fondse nie weerhou moet word nie.

Volgens die tesourie sal fondse betaal word sodra die betrokke munisipaliteite aan die vereiste voorwaardes voldoen en bewys lewer dat hulle dit gedoen het.

Een vereiste is ‘n minimum 25% vermindering in ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorsende uitgawes. Nasionale en provinsiale tesourieë het gesê hulle sal voortgaan om met munisipaliteite wat deur hierdie stap geraak word, te skakel en hulle te ondersteun om nakoming te verseker.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • BloemNuusExpress – E-Edition – 2 Julie 2026
    Bloem Express E-Edition

Gift this article