Vrystaatse Hooggeregshof
Vrystaatse Hooggeregshof. FOTO: Lientjie Mentz

Skikking keer voorlopig vervreemding van Naval Hill, Tempe-lughawe

, ,

BLOEMFONTEIN – AfriForum het vandag – Donderdag 30 Julie – in die Vrystaatse Hooggeregshof ‘n skikking bereik om die Mangaung-metro te keer om 153 munisipale eiendomme te verhuur of verkoop.

Hierdie eiendommse sluit onder meer die Tempe-lughawe en die Franklin-reservaat op Naval Hill in.

Dalena Beyers, AfriForum se raadgewer oor plaaslike regering, sê ‘n skikking is buite die hof met die Mangaung-metro bereik om nie voort te gaan om die eiendomme te vervreem of te verkoop totdat ‘n tweede aansoek van AfriForum ook in die hof gehoor is nie.

Nelson Mandela se standbeeld op Naval Hill.
Nelson Mandela se standbeeld op Naval Hill. FOTO: Lientjie Mentz

“Dit sou nie nodig gewees het om ons tot die hof te wend as die metro ons vrae oor die geadverteerde munisipale eiendomme beantwoord het nie,” sê Beyers oor die hofaansoek.

“Wanneer ’n munisipaliteit nie behoorlike openbare deelname fasiliteer nie én versuim om billike prosesse te volg, word die beginsels van deursigtigheid en verantwoordelike openbare bestuur ondermyn. Dit is daarom ’n groot oorwinning vir die gemeenskap van Bloemfontein dat hierdie proses gestop is,” sê Beyers.

AfriForum is verlede jaar van die voorgenome vervreemding en verhuring van die munisipale eiendomme bewus gemaak en het kort daarna met regstappe begin om dit te stop. Munisipaliteite word deur wetgewing verplig om onder meer behoorlike konsultasie met die publiek te fasiliteer voordat enige munisipale bate verkoop of verhuur mag word. Geen grond mag boonop vervreem word as dit gebruik word om enige dienste aan die publiek te verskaf nie.

“Hierdie eiendomme behoort in wese aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wou verhandel nie. Ons kon eenvoudig nie toegelaat het dat ’n strategiese en historiese grondgebied, soos die nuwe Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se koördineerder vir Bloemfontein.

In die tweede gedeelte van AfriForum se hofstukke vra hulle dat die besluit om die eiendomme te vervreem, ter syde gestel word. “Totdat dié saak afgehandel is, mag die metro geen verdere stappe doen om die eiendomme te verkoop of te vervreem nie,” sê Beyers.

AfriForum se standpunt is dat hierdie openbare eiendomme nie verkoop of vervreem mag word voordat die vereiste wetsprosesse behoorlik gevolg is nie.

Beyers sê dit is te danke aan die paraatheid van Bloemfontein se inwoners dat hierdie proses gestop is en verskeie natuur- en erfenisskatte behoue sal bly

Die Tempe-lughawe buite Bloemfontein.
Die Tempe-lughawe buite Bloemfontein. FOTO: Verskaf

Die uitspraak van die skikking kom terwyl daar ‘n punt in die raadsvergadering Donderdag gedien het. Die raad het met ‘n meerderheidstem deur die ANC in beginsel die verslag oor die vervreemdingsproses vir die eiendomme goedgekeur wat onder meer nou na die publiek vir openbare kommentaar verwys moet word.

In ‘n openbare kennisgewing van die Mangaung-metro waarin Naval Hill vir bewaringseiendom en/of ‘n pretpark verhuur of verkoop kan word. Op die kennisgewing word Tempe-lughawe vir aanbiedings vir ‘n landgoed-ontwikkeling beskikbaar gestel

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article