Uitspraak voorbehou in AfriForum se hofsaak oor vullisverwydering in Mangaung

, ,
AgriForum se eie vullisverwyderingsvragmotor.
AgriForum se eie vullisverwyderingsvragmotor. FOTO: Verskaf

Uitspraak voorbehou in AfriForum se hofsaak oor vullisverwydering in Mangaung

, ,

AfriForum se hofsaak teen die Mangaung-metro se voortslepende gebrek aan lewering van vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein het op Maandag 26 Oktober in die Bloemfonteinse Hooggeregshof gedien, waar uitspraak voorbehou is.

Die saak kom ná jare se gebrekkige en onbetroubare vullisverwydering waartydens inwoners verplig is om munisipale tariewe vir dié diens te betaal, selfs waar die diens geensins, of wisselvallig, gelewer word.

AfriForum se personeel laai vullis op.
AfriForum se personeel laai vullis op. FOTO: Verskaf

AfriForum voer aan dat inwoners nie verplig behoort te word om vir ‘n diens te betaal wat die Mangaung-metro nie lewer nie en dat inwoners, waar die munisipaliteit nie in staat is om die diens behoorlik te lewer nie, die keuse moet hê om van ’n alternatiewe diensverskaffer gebruik te maak.

LEES OOK: Span stuur Bfn se swak dienste na die vullishoop

Situasie voortslepend

Die burgerregteorganisasie probeer sedert 2020 om die probleem met die metro uit te klaar en honderde aansoeke om kwytskelding van die munisipale vullisverwyderingstarief is met AfriForum se hulp ingedien, maar die munisipaliteit het versuim om hierdie aansoeke behoorlik af te handel.

Die omvang van die probleem het AfriForum ook genoop om op verskeie geleenthede vullis namens inwoners te verwyder om die gesondheid- en omgewingsgevare wat met die ophoping van afval gepaardgaan te beperk.

LEES OOK: Munisipaliteite vaar steeds vrotsig met vullisterreine, mislukkings wydverspreid

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners jaar ná jaar vir ‘n diens moet betaal wat nie konsekwent gelewer word nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof in die sentraalstreek.

“Sedert hierdie hofgeding begin het, het vullisverwydering ‘n groot probleem in Bloemfontein gebly en kon die Mangaung-metro nie daarin slaag om ‘n betroubare en volhoubare diens te lewer nie.

“AfriForum glo dat die hof se uitspraak duidelikheid sal bring oor die regte van inwoners wat vir dienste betaal wat nie gelewer word nie. Dit is eenvoudig: Bloemfontein se inwoners moet ‘n behoorlike, volhoubare vullisverwyderingsdiens ontvang as daar van hulle verwag word om vir die diens te betaal.”

Versoeke aan hof gerig

LEES OOK: AfriForum op pad hof toe oor dubbele betaling vir vullisverwydering

AfriForum het die hof onder meer versoek om te verklaar dat inwoners nie geldelik aanspreeklik behoort te wees vir vullisverwyderingsdienste wat nie deur die munisipaliteit gelewer word nie en dat hulle van ‘n alternatiewe diensverskaffer gebruik kan maak.

Die organisasie het ook versoek dat die munisipaliteit gelas word om oor die uitstaande vrystellingsaansoeke te beslis.

AfriForum sal die uitspraak bestudeer sodra dit gelewer word en die implikasies daarvan met inwoners kommunikeer.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article