AfriForum se vullisverwydering-vragmotor. FOTO: Verskaf

Span stuur Bfn se swak dienste na die vullishoop

,

AfriForum se Bloemfontein-buurtspan skroom nie om moue op te rol en toe te sien dat vullis in dié stad verwyder word nie.

Namate die Mangaung-metro se dienslewering agteruitgaan, het die Bloemfontein-buurtspan ingetree en dit lyk of die verantwoordelikheid hulle soos ‘n handskoen pas. Onder leiding van AfriForum se voorman, Robert Myburgh, pak MC Jacobs, JP Bekker en Markus Pretorius uitdagings wat vullis in Bloemfontein betref.

Dit sluit in om gras te sny, parkies netjies te maak, slaggate te herstel, maar deesdae meer as enigiets, om seker te maak dat inwoners van Bloemfontein ‘n vullisverwyderingsdiens het waarop hulle kan staatmaak.

LEES OOK: Munisipaliteite vaar steeds vrotsig met vullisterreine, mislukkings wydverspreid.

AfriForum se Bloemfontein-strukture het vroeg in 2025 ‘n nuwe oranje vullisverwyderingsvragmotor aangeskaf en sedertdien vul AfriForum se vullisverwyderingsdiens meer en meer die leemte wat deur die sukkelende metro gelaat word.

Dié dinamiese viermanspan lê weekliks tussen 500 km en 700 km af om sowat 600 sakke vullis by minstens 300 eiendomme in dié metro te verwyder. Dit kom maandeliks neer op ongeveer 50 ton vullis.

Volgens Marius Dobson, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, gaan dit vir die span oor meer as net ‘n werk, dit gaan oor diensbaarheid en trots vir waar hulle woon.

“Die span het een doel voor oë en dit is om Bloemfontein elke week ‘n bietjie skoner en netjieser te maak. Hulle is nie praters nie, maar doeners. Hulle help elke dag om stuk vir stuk te help bou aan ‘n beter Bloemfontein.”

Duncker Hohls, ‘n inwoner van Bloemfontein, besing dié span se lof in ‘n boodskap aan Dobson: “Baie dankie vir die buurtspan. Hulle het ‘n baie goeie werk gedoen en is baie vriendelik. Ek wou maar net baie dankie sê.”

Terwyl die Bloemfontein-buurtspan hard werk om inwoners se vullis te verwyder, is AfriForum ook steeds in ‘n uitgerekte stryd met die Mangaung-metro gewikkel om te verhoed dat inwoners aanhou betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Meer as 700 mense het in Mei 2025 kwytskeldingsaansoeke by die metro ingedien sodat die tarief wat gehef word vir munisipale vullisverwydering, van hul rekeninge verwyder word.

AfriForum meen inwoners wat van private vullisverwyderingsdienste, soos dié van AfriForum, gebruik maak, behoort nie gedwing te word om vir die metro se onbetroubare vullisverwydering te betaal nie.

Die organisasie wag nog op ‘n hofdatum vir dié saak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article