BLOEMFONTEIN – ‘n Jong meisie wat mal is oor motorsport, het op Vrydag 25 September die perfekte vuurwa gehad om haar na die matriekafskeid te neem.
Gaby Diedericks se oupa, Pop Diedericks (75), het haar met sy oorspronklike Fiat 131 Racing waarmee hy in 1978 meegeding het, na die Hoërskool Sentraal se matriekafskeid by Leopards & Lace geneem.

Oom Pop was ‘n legendariese Suid-Afrikaanse ovaalbaanrenjaer van Bloemfontein. Hy het veral in die jare 1970 en 1980 uitgebink en was bekend vir sy Fiat 131 motor van Bill Troskie en ook Alfa Romeo-modelle waarmee hy in Groep 1-produksiemotors oorwinnings behaal het.
Hy het reeds op 13 jarige ouderdom opslae gemaak. In ‘n koerantberig word berig dat Pop Diedericks (13) die Sterre van die Toekoms-afdeling maklik gewen het en op die stampmotorbyeenkoms op die Bloemfonteinse skouterrein die beste vertoning van die aand opgelewer het.

Hy het onder meer die Asseng 200-produksiemotorresies op Kayalami met die Fiat gewen. Hy is in 1979 aangewys as Alfa Romeo se Sportman van die Jaar vir 1979 en die Formule 1-legende Niki Lauda het sy trofee aan hom oorhandig.

Sy seun, Lollo Diedericks, het in sy pa se spore gevolg en Gaby hoop om voort te bou op hul sukses.
Gaby hou net so baie soos haar oupa en pa van motor-resies en hulle wil nou vir haar ‘n motor bou sodat sy aan wedrenne kan deelneem.
LEES OOK: Nuwe Slotzway Speedway laat modelkar-entoesiaste se harte vinniger klop.







You must be logged in to post a comment.