BLOEMFONTEIN – ‘n Leerder van die Hoërskool Fichardtpark se lewe is die afgelope meer as nege maande erg ontwrig en moet dringend ‘n beenmurgoorplanting ontvang.
SJ de Klerk (17) se ouer sussie, Alisjé, het vir hom vroeër vandeesmaand ‘n Backabuddy-veldtog begin om haar ouers te help.

SJ het in die vierde kwartaal verlede jaar toenemend duiselig geword totdat dit byna daaglikse sy lewe ontwrig het. Sy ma, Elsjé, sê SJ het al bleker geword en sy tandvleis het begin bloei. Hy het ook ‘n veluitslag ontwikkel,” vertel sy. Sy is ‘n neonatale verpleegkundige by Mediclinic Bloemfontein.
Op 27 Desember was SJ se ouers so bekommerd, dat hulle hom na Mediclinic se ongevalle-afdeling geneem het waar toetse op hom uitgevoer is.
Lees ook op BloemNuusExpress: Bloemfontein actress represents SA in African cultural challenge.
Dit is toe dat die dokters hom met ernstige aplastiese anemie gediagnoseer het. Dit is ‘n ernstige siekte gekenmerk deur progressiewe afname van elemente soos rooibloedselle en bloedplaatjies in die bloed weens defektiewe beenmurgfunksie. Sy beenmurg vervaardig nie meer self genoeg rooibloedselle en plaatjies nie. Dit is so ernstig, dat hy byna weekliks in die hospitaal opgeneem moet word om oortappings van plaatjies en rooibloedselle te ontvang.

Elsjé sê SJ is ‘n aktiewe kind wat baie hou van swem en fietsry en graag met sy hande werk.
“Rooibloedselle vervoer die suurstof in jou bloed, dus maak sy toestand hom baie moeg. Hy het ook vroeër met die fiets skool toe en terug gery, maar omdat plaatjies help met bloedstolling wat sal maak dat hy erg sal bloei as hy seerkry, is die risiko nou te groot.”
Hy is vroeër vanjaar op immuunonderdrukkende behandeling geplaas wat in 70% tot 80% van gevalle die probleem oplos. Ongelukkig het dit nie in SJ se geval gewerk nie en is die enigste oplossing nou ‘n beenmurgskenking van iemand wat ‘n 100% ooreenstemming met SJ se beenmurg toon.
Hoewel die De Klerks ‘n siekefonds het, het dokters begin waarsku dat die behandeling sekere afdelings van die fonds se maksimum bereik. Die beenmurgoorplanting lê ook nog voor asook behandeling wat dit sal voorafgaan en daarop sal volg. Dit sal ook waarskynlik reis- en verblyfkoste insluit van een tot drie maande.
Lees ook op BloemNuusExpress: Bloemfontein voices lent to ‘Regular Show’ on Cartoon Network.
Tot dusver het vriende, familie en selfs net mense wat SJ se storie gehoor het, sowat R60 800 geskenk om hierdie familie se las ‘n bietjie ligter te maak.
Elsjé sê hulle is dankbaar vir elke rand wat op die blad gemaak is. “Mense se ondersteuning is verstommend en dit wys net vir ons hoe die Vader vir ons elke dag van ons lewe sorg.”
Besoek die BackaBuddy-blad om SJ te ondersteun hier.







You must be logged in to post a comment.