Die Sand du Plessis-amateurstoeiklub het op 19 September die klub se eerste Peet Labuschagne-toernooi in Bloemfontein aangebied.
Dit was ‘n huldeblyk aan die man wat die klub jare gelede in Bloemfontein gevestig het, oom Peet Labuschagne, en die nalatenskap wat hy deur die jare in die Suid-Afrikaanse stoeisport opgebou het.
Oom Peet het hy die stoeiklub by die Laerskool Sand du Plessis gestig. Wat begin het uit ‘n liefde vir stoei en ‘n begeerte om jongmense aan dié sportsoort bloot te stel, het oor die jare gegroei tot ‘n klub wat talle jong stoeiers gevorm en inspireer het.

Later het die klub na die Fichardtpark-sportterrein verskuif.
Baie stoeiers van die klub het Suid-Afrikaanse kampioene geword, terwyl ander die geleentheid gekry het om Suid-Afrika op internasionale vlak in die buiteland te verteenwoordig.Die sukses van die stoeiers is ‘n weerspieëling van die fondasie wat oom Peet gelê het – een wat nie net op tegniek en prestasie gebou is nie, maar veral op liefde vir die sport, dissipline, deursettingsvermoë en respek.
Lees ook: Stoeiers wys wat vreeslose vasbyt kan uitrig.
Met verloop van jare het oom Peet se betrokkenheid by die klub nie verdwyn nie. Hy is steeds deel van die klub se lewe en kom kyk, ondersteun en help waar hy kan.

Sy teenwoordigheid herinner die huidige geslag stoeiers en afrigters aan waar die klub vandaan kom.
Die afrigters wat ná hom die leisels oorgeneem het, dra dieselfde passie verder.
Hulle werk hard om die klub te laat groei en om aan ‘n nuwe geslag kinders dieselfde geleenthede te bied as in die beginjare. Vandag is daar talle jong stoeiers uit die klub wat op provinsiale, nasionale en selfs internasionale vlak presteer.
Lees ook: Eenheid lei tot ryke medalje-oes.
Die onlangse toernooi het aan die breër gemeenskap gewys watter besonderse sportsoort stoei is. Stoei behels nie slegs die meet van krag en fisieke vermoë nie. Dit leer kinders dissipline, selfvertroue, respek, deursettingsvermoë en hoe om op te staan wanneer dinge moeilik raak.
Stoeiers het in Augustus deelgeneem aan die Johnnie Reitz Big 5 Wrestling Championship 2026 – Year of the Elephant in Pretoria.
Die omvang en vlak van dié internasionale kompetisie is beklemtoon deur die groot getal deelnemers: 886 stoeiers op 8 Augustus, en 310 deelnemers die volgende dag.
Die Sand du Plessis-stoeiklub het met 19 stoeiers oor die twee dae deelgeneem en 27 medaljes verwerf.
Op die Saterdag het 14 van die klub se stoeiers altesaam 9 goue, 5 silwer- en 6 bronsmedaljes gewen. Die volgende dag het ‘n verdere vyf stoeiers deelgeneem en 1 goue, 3 silwer- en 3 bronsmedaljes huis toe gebring.
Met deelnemers uit verskeie lande, sowel as Suid-Afrika se topstoeiers wat meegeding het, was die kompetisie op ‘n besonder hoë vlak.







You must be logged in to post a comment.