Jongmense smee vriendskapsbande op rolbaltoernooi

,
Die Nasionale Junior Rolbaltoernooi is die week in Bloemfontein aangebied.
Die Nasionale Junior Rolbaltoernooi is die week in Bloemfontein aangebied. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – ‘n Oud-Bloemfonteiner wat slegs 11 jaar oud is, was een van die spelers wat sterk mededinging bied op vanjaar se nasionale junior rolbaltoernooi wat deur Rolbal Suid-Afrika (Rolbal SA) aangebied word.

Parker Perry (11), spanmaat MJ Castelyn van Gauteng-noord en hul span was vroeg-vroeg al gunstelinge in die o.15-afdeling deur groot tellings teen hul teenstanders aan te teken.

Die o. 18 B-span is van links Galaletsang Seitisho, Ewald Boje, Garth Nicolau (spanbestuurder), Xander Nicolov en Lisa du Randt.
Die o. 18 B-span is van links Galaletsang Seitisho, Ewald Boje, Garth Nicolau (manager),Xander Nicolov en Lisa du Randt.

Die toernooi, wat jong rolbalspelers van oor Suid-Afrika heen na Bloemfontein gebring het, het op Sondag 29 Maart begin, die eindstryde is op Woensdag 1 April beslis.

Die o.15- en o.18-spelers het op die Orangia-rolbalklub se drie bane meegeding, terwyl die o.25-spelers dit by Oud-studente om die titel uitgespook het.

Vanjaar het altesaam 268 spelers deelgeneem, met onder meer drie spanne van Botswana. Dit is vanjaar die 13de keer dat die toernooi in Bloemfontein aangebied word en Rolbal SA se 30ste junior toernooi.

“Dit was ‘n groot plesier om die toernooi in Bloemfontein aan te bied,” sê Sanet Kritzinger, die sameroeper.


Galaletsang Seitheisho en haar ma, Neo. Galaletsang is lid van die o.18B-span en Neo was die spanbestuurder van die Suid-Vrystaat se o.18A-span.
Galaletsang Seitheisho en haar ma, Neo. Galaletsang is lid van die o.18B-span en Neo was die spanbestuurder van die Suid-Vrystaat se o.18A-span.

Sy sê dit is veral korporatiewe sake-ligas wat deur klubs oor die land heen aangebied word wat kinders van dié sportsoort bewus maak.

Marius Janse van Vuuren, afrigter van die Suid-Vrystaatse spanne, sê rolbal is baie soos “skaak op gras”. Dit help kinders om te beplan.

Hy wil later vanjaar ‘n skole-toernooi in die Vrystaat aanbied en sê reeds vyf skole in die provinsie bied rolbal aan.

Lees ook: Aan die stuur vir S-VS.

Een van Bloemfontein se uitblinkerspelers is Galaletsang Seitheisho, wat ingesluit is in die nasionale Groenspan, waaruit spelers vir die Goue span gekies word. Haar ma, Neo, is die spanbestuurder van die o.18A-span en was verlede jaar self lid van die Groenspan. Galaletsang, ‘n leerder aan die Hoërskool Sand du Plessis, is lid van die Suid-Vrystaat-o.18B-span.

Parker Perry (11) was een van die jongste spelers op die toernooi.
Parker Perry (11) was een van die jongste spelers op die toernooi.

In die o.15-toernooi het Oostelike Provinsie A goud gewen met Boland A in die tweede plek.

In die o.18-finaal was dit Sedibeng B van Rustenburg-omgewing wat met 15-12 ‘n oorwinning behaal het en goud huis toe neem teen Noord-Kaap A.

In die o,25-finaal was Noordwes A net te sterk vir die span van Noord-Vrystaat A met ‘n telling van 11-8 in Noordwes se guns.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article