Die jaarlikse kragmetings in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks tussen die Hoërskool Diamantveld en die Hoërskool Sentraal het op Donderdag 8 Mei amptelik in Bloemfontein begin. Die naweek se sport het begin met die opwindende hokkiewedstryd tussen die eerstes meisies-hokkiespanne. Dit het reeds vroeg die toon vir die naweek se sportaksie aangegee het.
Die interskole het Vrydag voortgeduur met hokkie-, rugby- en netbalwedstryde. Weens al die reën die afgelope tyd, is die rugbywedstryde by die UV se velde gespeel.
Een van die hoogtepunte van die dag was die o.16A-mei-siespan van Sentraal, wat ‘n indrukwekkende 6–0 oorwinning oor hul eweknieë van Diamantveld behaal het. Dit was ‘n hoëtempo-wedstryd waarin Sentraal van die eerste oomblik af beheer geneem het.
Reeds in die eerste kwart het die span hul intensiteit gewys deur drie doele aan te teken en sodoende ‘n stewige voorsprong te vestig.
Altesaam ses hokkiewedstryde is gespeel, waarvan Sentraal almal gewen het – ‘n duidelike bewys van hul sterk vertonings oor die verskillende sportsoorte.
Sentraal se eerste netbalspan was bie-tjie onder druk in die eerste twee kwarte. Waar hulle gelyk was ná die eerste kwart, het die meisies voortgeveg en uiteindelik met 38 -22 hul oorhand bevestig.
Die rugbywedstryd waarin die skole se eerste spanne mekaar gepak het, was ‘n mooi vertoonwedstryd.
Sentraal het vasgeval teen Diamantveld. Daar is 9 wedstryde gespeel, waarvan Diamantveld almal gewen het. Diamantveld se o.16B-span het duidelik gewys wie die baas is en het ‘n telling van 60 -0 aangeteken.
Ten spyte van die telborde bly die Interskole tussen Sentraal en Diamantveld veel meer as net ‘n kompetisie. Dit is ‘n geleentheid waar vriendskappe gebou word en sportmanskap gevier word – iets wat elke jaar as ‘n besondere voorreg ervaar word.








You must be logged in to post a comment.