Planne om die Bloemfontein-dieretuin weer oop te maak, is op dreef.
Volgens Nicolette Maysiels, die waarnemende algemene bestuurder van kommunikasie by die Mangaung-metro, is dié projek belangrik vir die metro.
Die metro moes die dieretuin in 2020 sluit weens wanbestuur, maar het intussen besluit dat die dieretuin opgeknap en weer heropen moet word.
‘n Uitspraak deur die Vrystaatse Hooggeregshof het streng voorwaardes gestel waaraan voldoen moet word voordat die dieretuin weer kan oopmaak.
Maysiels sê daar moet nog vasgestel word hoeveel benodig word vir die projek. Hoewel die begroting R29 miljoen oor drie jaar insluit, moet daar nog bepaal word wat die projek uiteindelik sal kos.
Van die opgraderings wat nou gedoen word, is die afbreek en verwydering van onveilige strukture.
Veranderings word ook nou aan van die diere se hokke gemaak om dit groter en meer funksioneel te maak. Verder word ook algemene onderhoud van die dieretuin en terrein gedoen.
Kontrakteurs wat nou op die terrein is, werk aan die heinings binne asook die heining om die dieretuin. Werk word ook gedoen aan die restourasie en opgradering van die besproeiingstelsel.
Verder is daar ook volgens Maysiels kontrakteurs wat die waternetwerk herstel en opgradeer.
Dirk Kotzé, DA-wyksraadslid wat onlangs die dieretuin besoek het, sê egter daar is min sigbaar van die herontwikkeling wat die metro beloof.
“Dit skep vrae rondom die begroting van R8.8 miljoen sowel as die R29 miljoen oor drie jaar wat aan die herontwikkeling van die dieretuin toegewys is,” sê hy.
Die metro het intussen advertensies geplaas vir die aanstel van bykomende personeel. Tans is daar ‘n bestuurder, kurator, senior dieretuinbestuurder, ‘n klerk, ses dieretuinopsigters en ‘n opvoedkundige beampte in diens.
Maysiels sê die metro beplan om binnekort ‘n veearts aan te stel in vooruitsig op die toekomstige operasionele bestuur van die dieretuin. Dit is een van die belangrike vereistes vir die heropening van die dieretuin.
“Daar is nog geen datum vir die heropening van die dieretuin nie. Die heropening hang af van verskeie faktore soos die afhandeling van opgraderings, die aanstelling van toepaslike personeel, die beskikbaarheid van veearts-dienste, die regulatoriese goedkeuring en die nakomings soos vereis word met die hofuitspraak.”
Sy sê die metro waardeer die belangstelling van die publiek in die toekoms van die Bloemfontein-dieretuin. “Die metro is toegewyd om hierdie belangrike openbare bate op ‘n verantwoordelike en volhoubare manier te herstel,” het sy aan BloemNuusExpress gesê.






