Inwoners van Quaggafontein moet elke keer daarvoor boet wanneer water weens gebarste pype uit die Brandkop-reservoir gelaat word.
Soos onlangs weer toe water op 16 April uit die groot reservoir by Vaal Central in Pellissier gelaat is, omdat die waterdruk gestyg het, en dit paaie in Quaggafontein en Kelly’s View verspoel het.
Lindiwe Mnguni, bestuurder van kommunikasie en bemarking van die Mangaung-metro se waterverskaffer Vaal Central, sê in die jongste voorval is water uitgelaat nadat ‘n 700 mm-pyp gebars het. Sy verduidelik die oorloop is veroorsaak deur ‘n onttrekking van water van die Longridge-reservoir nadat die pyp gebars het. Die vraag na water het drasties gedaal, wat die vlakke van die Brandkop-reservoir vinnig laat styg het.

“As ons die watertoevoer eensklaps afgesit het, sou dit moontlik daartoe gelei het dat skade aan die pype veroorsaak kon word, wat tot erger probleme kon ly,” verduidelik Mnguni.
Die gevolg hiervan was dat water van die Brandkop-reservoir afgespoel het tot in Speserystraat, Sesdestraat, Komyn-, Nardus-, Tiemie- en Pimentstraat en ernstige skade aan padoppervlakke aangerig het.

Inwoners moet by so ‘n geleentheid inspring en die water wat by tye teen 500 liter per sekonde in die strate afgevloei, weglei. Felix Burri, een van die inwoners, sê hulle as gemeenskap het al maklik R260 000 bestee om die skade aan paaie te herstel.
Mnguni sê planne word wel nou deur Vaal Central beraam om die uitdagings die hoof te bied. Dit sluit in ‘n projek om die ou asbespype wat oor 115 km van Welbedacthdam af strek en gereeld bars, met staalpype en sementpype te vervang. Fase een van die projek is in Februarie 2025 voltooi toe 33,7 km van die pypleiding vervang is. Sy sê daar word nou gewerk aan fase 2, wat oor 71,3 km strek.
Sy sê Vaal Central sal nou met belanghebbendes vergader om te sien of daar in die toekoms ander opsies is om die oorloopwater te laat weglei.






You must be logged in to post a comment.