‘n Jaar nadat die “opknapping” van die Bloemfontein-dieretuin begin het, is daar steeds min te sien van die R8,8 miljoen wat vir die eerste jaar begroot is.
Hoewel die dieretuin se terrein netjies en die gras kort is, is daar hokke wat borshoogte vol onkruid staan terwyl daar geen werknemers in sig was nie met BloemNuusExpress se besoek op Woensdag 24 Junie.
Ekstra relings is wel by sommige hokke aangebring, klaarblyklik om veiligheid vir besoekers te verbeter, maar dit is al veranderings wat waargeneem kon word.

DA-wyksraadslid Dirk Kotzé sê dié party stem nie saam met die Mangaung-metro se vae plan om die dieretuin weer oop te maak nie.
Op die vergadering op 28 Maart 2025 het die destydse burgermeesterskomiteelid Logan Kruger aangekondig dat R8,8 begroot is vir die opknapping van die dieretuin. Die raad het net daarna die 2013-besluit dat die dieretuin na Kwaggafontein buite die stad sou skuif, herroep en besluit om die bestaande dieretuin op te knap.

“Die burgermeester het erken dat die munisipaliteit probleme met die hervestigingsplan van die dieretuin na Kwaggafontein ondervind het, asook swak toesig oor die proses gehou het. Die DA het toe kommer uitgespreek oor hoe die saak in die raad hateer is. Die raadslede het geen dokumentasie met ‘n tydsraamwerk vir die proses ontvang voordat daar van ons verwag is om te stem nie,” sê Kotzé.
Hy sê die vestiging van ‘n dieretuin in Kwaggafontein met 1 300 ha maak baie meer sin as die 15 ha in Koningspark.
“Nou is ‘n jaar verby en ons weet steeds nie hoeveel van die R29 miljoen wat vir die opknapping bestem is, al gebruik is nie. Boonop het die metro R18 miloen bestee om ‘n heining om die grond by Kwaggafontein op te rig – grond wat nou nie gebruik word nie.”
Kotzé sê volgens die riglyne van die department van omgewingsake en kleinsakeontwikkeling (Destea) se vereistes voordat die dieretuin weer kan oopmaak, kan daar beslis nie net enkele relings aangebring word nie.
LEES OOK: Bloemfontein se dieretuin: Mangaung se planne op dreef, of nie?
“Die hele dieretuin moet heeltemal oorgedoen word. Dit sal ongeveer R300 000 kos om al die geboue en hokke plat te stoot sodat daar met ‘n nuwe plan begin kan word.”
Navrae wat BloemNuusExpress aan die metro gerig het, is ook nie beantwoord met ‘n duidelike tydraamwerk en plan nie.
Vir nou ontvang 11 personeellede wat niks anders te doen het nie as om te sorg vir vier buffels in die dieretuin, maandeliks ‘n salaris. Intussen hardloop net die dassies en muishonde oor die terrein terwyl twee poue die stilte in die dieretuin aanskou.







You must be logged in to post a comment.