Byna ‘n jaar ná die uitvoerende burgemeester Gregory Nthatisi se besoek aan Wilcocksweg om self te sien watter gevare dié pad in Bayswater inhou, is daar geen teken van ingrype deur die Mangaung-metro nie.
Elizabeth Snyman-Van Deventer, ‘n VF Plus-raadslid in die metro, het ‘n skrywe aan Nthatisi gerig waarin sy vra dat daar dringend iets gedoen moet word om die groeiende lys van ongelukke in dié besige pad in die stad te verhoed.

Sedert die besoek verlede jaar was daar reeds ses ongelukke in Wilcocksweg – waarvan twee net op 15 April. In hierdie tyd was daar ook reeds twee sterftes. ‘n Voetganger wat op 7 September 2025 gesterf het in ‘n tref-en-trap-ongeluk, asook ‘n ongeluk waarin iemand op 10 Maart gesterf het. ‘n Saak van strafbare manslag is in laasgenoemde ingeste. “Hierdie insidente het ‘n ernstige impak op die gemeenskap en wys net weer hoe dringend hier ingryping nodig is,” sê Snyman-Van Deventer.
Die berig op 18 September: Versigtige optimisme oor Wilcocks ná besoek van Mangaung-burgemeester.
Tydens die besoek verlede jaar op 12 September het Snyman-Van Deventer namens die VF Plus gevra dat daar ernstige oorweging geskenk word aan die bou van ‘n verkeersirkel as ‘n praktiese oplossing om die spoed waarteen sommige motoriste in die pad af ry, te verminder. “Tot nou toe was daar geen implementering van hierdie of enige alternatiewe ingrypings om die pad veiliger te maak nie.”
Sy sê bykomend tot die behoefte aan maniere om die spoed waarteen motoriste hier ry te verminder, is daar ook ander belangrike sake wat aandag verdien. Dit sluit in die verf van verkeerslyne wat dof is en risiko’s vir ongelukke verhoog. Verkeerstekens hier is óf afwesig, óf dof en onleesbaar is.
Snyman-Van Deventer sê die stormwater-dreinering hier skep ernstige probleme tydens hewige reën. “Dit lei daartoe dat water in die pad opdam en bydra tot gevaarlike verkerstoestande.”
Sy sê die saak moet dringend aandag kry, veral omdat gereelde ongelukke én sterftes hier ‘n duidelike bewys is van die gevaar wat dit vir alle padgebruikers inhou.







You must be logged in to post a comment.