‘n Spesiale kunsuitstalling vind vanaf Vrydag 21 Augustus in die Du Monyè-galery in Bayswater plaas.
KleurKind is ‘n gemeenskapsprojek deur dié gallery ten bate van die Lettie Fouché-skool in die stad, waar 100 kinders kunswerke gemaak het wat ten bate van die skool verkoop gaan word.

Daniel Ellis, eienaar van Du Monyè, verduidelik die idee was aanvanklik om ‘n uitstalling van ontluikende kunstenaars se werk aan te bied.
“Ek wou egter iets meer doen. Terwyl ons eendag by ‘n restaurant kuier, loop ek Zelda Lange raak.
“Ek het in 2008 vir haar ‘n rok gemaak met oudpres. Nelson Mandela as tema waarmee sy aan die Mev. Verenigde Nasies gaan deelneem het.”

Ellis verduidelik hy het Mandela se gesig met die hand op die rok geskilder asook sy handafdruk en sy gevangenis-nommer 46664 – simbole van hoop, menswaardigheid, en diens aan ander.
“Die rok was die beginpunt van die idee.
“Dit herinner mense dat een hand ‘n nalatenskap kan laat wat die wêreld verander.”
Hy het Alexander Jordaan, die skoolhoof van die Lettie Fouché-skool, genader en die onderwysers daar was dadelik opgewonde oor die geleentheid vir dié kinders om kunswerke te maak.

As deel van die uitstalling gaan die rok die middelpunt vorm, met die kinderkuns aan die Muur van Hoop waar die hande-kuns uitgestal sal word.
“Elke hand verteenwoordig ‘n unieke kind, met ‘n unieke storie en ‘n unieke talent.
“Saam word hierdie muur ‘n simbool van eenheid, hoop en die krag van gemeenskap,” sê Ellis.
Die doel van die geleentheid is om aan besoekers die geleentheid te bied om oorspronklike kuns te koop of ‘n skenking ten bate van die projek te maak.
Kuns van ontluikende kunstenaars in die gemeenskap sal ook te koop wees.
Toegang tot die opening is gratis, maar plek is beperk.
Diegene wat die opening Vrydag om 18:00 vir 18:30 wil bywoon, kan plek bespreek by 082 893 7694.
Die uitstalling sal nog tot September duur.





You must be logged in to post a comment.