Onderwysers en leerders aan die Laerskool Dr. C.F. Visser is opgewonde oor ‘n splinternuwe rekenaarsentrum wat onlangs daar voltooi is.
Solidariteit Helpende Hand Vrystaat en die Helpende Hand Bloemfontein-vrouetak het die voortou geneem om te help om ‘n vertrek by die skool in te rig met ‘n skenking van 30 rekenaars wat ontvang is.

Skenkers het geld beskikbaar gestel en Bernard Wiid het die rekenaars gekoppel en die hele stelsel opgestel waarmee die kinders rekenaarvaardighede sal kan aanleer.
Riekie Venter, skoolhoof, het met die opening van die rekenaarsentrum op 3 Augustus gesê hierdie droom het al ‘n lang pad gekom.
“Ons het al moed opgegee dat ons ooit die rekenaars wat ons ‘n paar jaar gelede ontvang het, sal kan gebruik. Almal se hulp om die sentrum in te rig kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie,” sê sy.
Dit sluit in die hulp van Journey Deeper, wat ‘n hand bygesit het met die inrigting van die sentrum.
Venter sê baie van die kinders het nie rekenaars by die huis nie; as daar wel ‘n rekenaar is, kan hulle nie daarop werk nie.
“Dit is so belangrik dat die kinders basiese rekenaarvaardighede leer,” sê sy.
Marli Buys, Solidariteit Helpende Hand se assistentstreekorganiseerder in die Vrystaat, sê dit was besonders om te sien hoe mense saamstaan en hande vat om hierdie projek moontlik te maak.
“Die sentrum sal aan leerders die geleentheid bied om waardevolle rekenaarvaardighede aan te leer en toegang tot tegnologie as deel van hul onderrig te hê.”
Die nuwe rekenaarsentrum sal gebruik word om die leerders basiese vaardighede op programme soos Microsoft Word en Excell te leer, maar ook meer as dit. Werk wat hier gedoen word, kan ook ingespan word in die aanbieding van vakke soos Afrikaans en Engels.







You must be logged in to post a comment.