‘n Egpaar van Langenhovenpark Jannie en Zelda van der Linde is op Maandag 4 Mei op slag in ‘n motorongeluk in Kenneth Kaundaweg dood.
Braam van Zyl van die Mangaung-brandweer sê die egpaar het in hul Hyundai i10 uit die rigting van die snelweg na die stad gery, toe ‘n Toyota-bakkie wat van Northridge Mall se rigting gery het, beheer oor sy voertuig verloor het. Die bakkie het van voor in die Huyndai gebots.
Die ongeluk het Maandag in gietende reën gebeur. Op ‘n video wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe die bakkie na regs oor die pad swenk en teen ‘n ander voertuig bots.
Van Zyl sê die brandweer is om 15:31 oor die ongeluk gekontak en het hulle na die toneel gehaas. Die twee insittendes van die Huyndai is met meganiese reddingskake uit die voertuig gehaal, maar altwee is op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder van die bakkie is beseer en is deur ER24 na die Mediclinic Bloemfontein vervoer.





