Die Imbassa-lodge in Mokala. FOTO: Verskaf

Bonus Mokala-boskonsert gereël ná kaartjies vlieg

, ,

Die jaarlikse Mokala-boskonsert, wat reeds die afgelope 11 jaar in die Mokala- Nasionale Park kort duskant Kimberley aangebied word, het so gewild geword dat kaartjies vir 2027

se konsert uitverkoop het nog voordat dit behoorlik geadverteer is.

Dit word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se Ereveldwagters in die Vrystaatstreek aangebied om onder meer die park se inkomste aan te vul, ‘n bydrae tot bewaring in die park te lewer, en die park te bemark.

'n Sonsondergang soos gesien vanuit die Mokala- Nasionale Park.  FOTO: Christo Louw
‘n Sonsondergang soos gesien vanuit die Mokala- Nasionale Park. FOTO: Christo Louw

“Met dié dat 2027 se konsert al uitverkoop is, kon van ons getroue ondersteuners nie plek kry nie. Daarom is besluit om ‘n tweede konsert aan te bied,” sê Ina Leamy van die Ereveldwagters.

Dié konsert word vir die naweek van 13 tot 15 November vanjaar beplan. Die gaskunstenaars is Arco Musica van Bloemfontein, onder leiding van Arend Brink. Gaste sal na ‘n verskeidenheid musiekgenres kan luister, met instrumentale en vokale gunstelinge. Dit sluit in temamusiek van The Lion King en Lord of the Dance.

“Dit is ‘n wenkombinasie van lekker kuier, geurige kos en mooi musiek onder die Noord-Kaapse sterrehemel,” sê Leamy.

Pakkette – waarvan die prys bepaal word deur die verblyf wat gekies word – behels verblyf vir twee aande vir twee gaste; ‘n vleisbraai-geselligheid die Vrydagaand; en ‘n ete en konsert die Saterdagaand. Verblyf is nog in die Motswedi-boomhuis beskikbaar en in chalets in die Mosu- en Lilydale-ruskamp. Kampeerplek by Motswedi en Haak-en-steek kan ook nog bespreek word. Die nuutste toevoeging tot verblyfmoontlikhede in Mokala is luukse kamers met en suite-badkamers by Imbasa Lodge, waar ‘n swembad en sitkamer ook beskikbaar is.

Gaste kan in die park rondry om onder meer buffels, gemsbokke, koedoes, basterhartbeeste, rooihartbeeste, bastergemsbokke, sebras en kameelperde te sien. Met meer as 150 voëlspesies is die park ook ‘n voëlkyker se droom.

Kontak Susan Esterhuizen by 083 262 6148 of susan.esterhuizen2023@gmail.com, vir inligting of om bywoning te bespreek. Kontak Leamy by 082 202 4202 of ina@sanparksvolunteers.org.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article