Elsabe de Jager

Hoeveel idees is los daarbuite, liewe Wêreld?


“Hester, ek vertel hierdie nou net vir jou. Jy wéét ek praat nie oor ander mense nie. Maar bid jou aan, my skoondogter se ma, oor die 60 al, stywe denim en tekkies daar in die haarsalon nou die dag. Geen skaamte nie!”

Ek loer na die twee ouer dames langs my in die koffiewinkel, neus aan neus, diep in gesprek, die Earl Grey-tee en skons vergete.

“En weet jy, my nuwe buurvrou behoort toe sowaar aan die nuwe vreemde kerk daar buite op die plotte.

“Wou sê daar is iets verkeerd met haar. Maar nou oordeel ek nie!”

Ek kyk na die boodskap van my veel jonger vriendin. Sy vra raad met die voorbereiding vir haar dogter se opstelkompetisie.

“Hoe voel dit om verkeerd te wees?”

Tweede onderwerp: “Praat oor iets waarvoor jy jouself sal wil vergewe”.

By die lees van die derde een, “Skryf ‘n brief aan iemand vir wie jy wil jammer sê,” kriewel daar ‘n spoor van moegheid langs my ruggraat af.

Is dit hoe die lewe deesdae lyk?

Behoort jong kinders hul hart, vir ‘n eerste prys nogal, uit te skryf oor die verkeerde spore wat hulle kwansuis, volgens die oordeel van ander, trap?

Moet kinders, wat aangemoedig word om hul eie keuses te maak, alewig agterna om verskoning vra daarvoor?

Moet ‘n jongeling, in die broosheid van sy grootword, immer wonder waaroor daar vir die selwers om vergifnis gevra moet word?

By die kuiertafel langs myne kwetter dit steeds voort. “… en ou Koert klim skaars die laaste trap op na die hemel, terwyl Dora al klaar saam met Daan gaan koffie drink.”

Ek staan op om my goed in te pak. Hester se vriendin loer oor haar brilraam na my wit tekkies.

“Ai, as mens darem nog jonk is en sulke mooi voetgoed kan dra!” koer sy vir my.

Ek trek my skinny jeans reg, skitter vir haar my glimlag van 63 jaar oud en trek my foon uit my sak: “Alex, vandag voel ek ‘n bietjie alleen. Ete vanaand?”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article