BLOEMFONTEIN – De Oude Kraal se 26ste WildsKosfees op Saterdag 6 Junie beloof om ‘n viering van die Vrystaat se wild, vuur en vindingrykheid te wees.
Vanjaar word daar vir die heel eerste keer ‘n buffel op die spit gebraai, so as jy nog nooit buffel geproe het nie, vanjaar is jou kans.
Vir 26 jaar reeds bring De Oude Kraal Country Estate and Spa buite Bloemfontein mense bymekaar rondom vuur, wildsvleis en die unieke geure van die Vrystaat.

Wat begin het as ‘n kreatiewe plan om iets lekker aan te bied in die koue Vrystaatse winter, het ontwikkel tot een van die streek se mees geliefde kulinêre tradisies.
Volgens Marie Lombard, sjef en mede-eienaar van De Oude Kraal, het die eerste WildsKosfees baie eenvoudig begin.
“Ons het gesit en dink hoe ons in die koue Vrystaat bedrywiger kan maak hier op De Oude Kraal,” vertel sy.
“Die eerste keer het ons ‘n springbok op die spit gehad wat ek met netvet toegedraai het.”
Sy lag wanneer sy terugdink aan ‘n oom wat na haar toe gestap het met ‘n bekommerde vraag.
“Hy het gesê: ‘Maar julle bemark dan wildsvleis, hoekom spit julle ‘n skaap?’ Ek moes verduidelik: ‘Nee oom, dit ís ‘n springbok – die netvet het net so mooi oor die vleis gesmelt dat dit soos skaap lyk.’”
Daardie oomblik het ook ‘n belangrike beginsel bevestig: die geheim van goeie wildsvleis is vet.

“Wildsvleis is ongelooflik organies en gesond, maar dit is baie maer. Daarom werk ons met vet, marinades en kreatiewe kombinasies om die vleis se volle geur na vore te bring.”
Op vanjaar se WildsKosfees staan De Oude Kraal se personeel weer gereed om ongeveer 2 000 mense te ontvang.
Die omvang van die voorbereiding is indrukwekkend. Ongeveer 200kg vleis per wildspesie word voorberei – alles op De Oude Kraal.
Die wildspesies sluit springbok, blesbok, swartwildebees, koedoe, rooihartbees, gemsbok, ribbok, rooibok, vlakvark, bosvark, eland, waterbok, takbok, blouwildebees, krokodil en eend in.
“Ons gebruik net vroulike diere, en ons verouder die karkasse in die vel voordat dit verwerk word,” verduidelik Lombard. “Ons sny ook self al die senings uit. Dit maak ‘n groot verskil aan die sagtheid van die vleis.”
Elke jaar begin sy van voor af resepte uitwerk vir elke wildspesie.
“Ons het reeds begin met die koedoe en het die resep vir die wors, die koedoe-espetada en steak met tiemie reeds neergeskryf en die vleis is verwerk,” vertel sy.
Dié wors is heerlik sappig en die koedoe-sosaties in spek toegedraai, is iets wat gaste op die fees beslis kan uitsien.
Sy beplan vir die springbok onder meer ‘n ontbeende boud met olywe gevul.
Al die vleis word verwerk en resepte word noukeurig neergeskryf. Sy sê by elke spesie-stalletjie is daar ‘n koue slaai en ‘n warm gereg wat die geure van die vleis aanvul.

Natuurlik is die WildsKosfees ook bekend vir sy uitstekende verskeidenheid van die land se voorste landgoedwyne wat geproe kan word, en waarvan gaste kan koop.
Die gaskunstenaar op vanjaar se 26ste WildsKosfees is Jay. Daar sal ook prettige aktiwiteite vir die kinders wees.
Kaartjies vir die fees kos R695 en is nou reeds beskikbaar op die webwerf deoudekraal.com of skakel 071 679 6596.
Daar is ook kaartjies beskikbaar by Crazy Daisy in Fleurdal Mall, Daizy & Co in Prellerplein en by Delta Express in Westdene.







You must be logged in to post a comment.