AfriForum het Woensdag 22 April in ’n skrywe aan die Mangaung-metro se uitvoerende stadsbestuurder Sello More gerig waarin die burgerregte-organisasie sy onmiddellike bedanking eis.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek, sê die eis dat More moet bedank, volg op die voortslepende wanbestuur van geld en die verval van infrastruktuur in die metro.
Hy sê die verval van dienslewering in Bloemfontein het ’n kritieke punt bereik met nuwe inligting wat bevestig dat meer as R1,6 miljard oor vyf jaar verlore gegaan het weens waterlekkasies, ’n direkte gevolg van swak bestuur, gebrekkige instandhouding en totale administratiewe mislukking.

Volgens AfriForum verdien die inwoners van Bloemfontein betroubare en funksionele basiese dienste, verantwoordbare en bevoegde leierskap en deursigtige en eerlike finansiële bestuur.
Grobbelaar sê die verval van Bloemfontein is nie net ’n infrastruktuurprobleem nie, maar ’n leierskapskrisis. “Terwyl miljarde rande vermors word, word inwoners sonder betroubare vullisverwyderingsdienste gelaat met ’n munisipaliteit wat nie eers diesel vir vullisverwyderingsvragmotors kan bekostig nie, vullisterreine wat nie op standaard is nie en swak bestuur word, paaie wat oortrek is met gevaarlike slaggate en parke wat al vir maande lank verwaarloos is.”
AfriForum het in Maart alleen 64 ton vullis verwyder en 64 874,50m² se gras in parke en groen gebiede gesny.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder, sê hierdie ingrype was nodig omdat die metro versuim om sy verpligtinge na te kom.

Die Mangaung-jaarverslag vir 2024/2025 wys op herhaalde onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes, wat ’n kultuur van wanbestuur en geen aanspreeklikheid bevestig.
“Nog meer skokkend is dat die munisipale bestuurder, mnr. More, homself in 2024 met ’n salarisverhoging van ongeveer R700 000 per jaar beloon het vir sogenaamde “uitmuntende prestasie”. Hierdie besluit is ’n klap in die gesig van elke belastingbetaler wat daagliks die gevolge van hierdie mislukking moet dra,” sê Grobbelaar.
“AfriForum stel dit duidelik: hierdie situasie is onaanvaarbaar, daarom eis ons formeel die onmiddellike bedanking van mnr. More. Sy voortgesette aanstelling is onhoudbaar en ondermyn enige poging om die munisipaliteit te herstel,” sluit Grobbelaar af.
AfriForum beplan ook om sy buurtspan opleiding te gee om waterlekkasies te herstel, sodat die organisasie kan ingryp waar die metro nie sy verpligtinge nakom nie.
Nou het AfriForum met ‘n versoekskrif begin genaamd Sello More moet bedank! Stop die verval van Mangaung. Elke keer dat iemand die versoekskrif onderteken, sal ’n versoek om bedanking aan More gestuur word. ’n Afskrif van die versoek sal ook aan Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, en MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaat-premier, gestuur word.






You must be logged in to post a comment.