Almal wat al ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, ken daardie gemis. Dit lê in tasbare dinge soos die klere wat in die kas agterbly, maar ook die onsigbare, kosbare reuk wat maande en selfs jare nog aan die geliefde se klere bly hang.
Dit is hierdie reuk wat Janet Conradie, ‘n boervrou van Hoopstad, gereeld ingeasem het nadat haar man, Naas Strydom, in 2022 weens komplikasies aan Covid-19 oorlede is.
Die reuk van sy hemde het haar kosbare herinneringe aan hom gevoed.

“Ek het eendag weer my gesig so tussen Naas se hemde ingedruk en op my bed gaan lê. Die bed het so leeg gevoel. Ek het net daar die idee gekry om ‘n kwilt van sy hemde te laat maak.”
Sy sê sy kan net basiese naaldwerk doen, en het geen idee gehad van hoe om so ‘n hemde-kwilt te maak nie.
“Ek gaan soek toe op die internet en kom af op iemand wat kwiltklasse in Bloemfontein gee, wat my na Hannetjie le Roux verwys.”
Hannetjie wat in die Rosenheim-aftreeoord in Fichardtpark woon, vertel: “Die vrou het eendag net hier by my opgedaag met sakke vol hemde en gevra of ek die hemde in blokke kan opsny en in ‘n lappieskombers vir haar kan maak. Ek het dadelik ingestem.

“Gewoonlik gebruik ‘n mens net 100% katoen vir kwiltwerk, maar hierdie was gemengde materiaal.”
Sy en buurvrou Annatjie Smith het albei al die seer beleef van ‘n man wat oorlede is.
Hannetjie het besluit hierdie gaan geen gewone lappieskombers wees nie. Sy het die hemde opgesny en elke stuk met binnebelegsel vasgestryk. Daarna het sy dit in ‘n goed ontwerpte kwilt van 317x265m saamgevoeg.
Sy en Annatjie het saam kwiltklasse geneem en Hannetjie het vir haarself al ‘n spesiale kombers met haar oorlede pa se dasse gemaak. Die twee vroue van Rosenheim het sewe maande lank gewerk en Hannetjie het die kombers uiteindelik met stroke lap afgerond.
Sy het kort-kort vir Janet foto’s gestuur, maar net sulke hoekies en klein deeltjies sodat sy nooit regtig geweet het hoe haar kwilt gaan lyk nie.

Op Woensdag 15 April het sy spesiaal Bloemfontein toe gery om haar kwilt te kom haal. Sy was verstom oor die eindproduk. “Selfs die hemp wat Naas aangehad het op die foto op sy begrafnis, het ‘n fokuspunt van die kwilt gevorm. Sonder dat ek dit eers vir Hannetjie gesê het,” sê sy.
“Die kwilt is asemrowend mooi en super spesiaal,” sê Janet oor die eindproduk.
“Dit is iets baie spesiaal van hom om naby my te hou. Nou kan ek elke aand slaap met dié spesiale kwilt bo-oor my.”






You must be logged in to post a comment.