As ek snags ná werk die strate van die Paarl invaar vir ’n bietjie oefening, hang die kaggelrookbehoorlik oor die Paarlvallei. Die lug is ysig, die bome staan kaal sonder hul somerkleed. Hier en daar waag ’n eekhoring dit om uit sy eikeboom se skuiling te kruip, op soek na ’n verlore akker of twee.
Hoewel ek my as ’n somermens beskou, het die winter tog sy eie bekoring en genot.
Buiten vir rooiwyn en kaggelvuur, laat hierdie koue weer my behoorlik smag na waterblommetjiebredie. En, verskoon die cliché, maar tydens my stap-draf in die Paarl se mooi strate, betrap ek myself onwillekeurig dat ek Anton Goosen se bekende lied Waterblommetjies in die Boland begin neurie.
In hierdie tyd van die jaar, as ek Wellington se kant toe ry en die waterblomme pronk op damme van Oudepont-plaas, kan ek myself nie keer om af te draai nie. Ek hou stil op die grondpad langs die damme en kyk hoe die blomme gepluk word. Die groot plate spierwit blomme pryk swaar op die watervlak. ’n Mens raak amper weemoedig wanneer die plukseisoen verby is en die water elke dag minder word. En dan verdwyn die blomme skielik vir ‘n volle jaar.
Behalwe vir die heerlikheid van waterblommetjiebredie, dink ek veral hierdie tyd van die jaar aan my dogter wat reeds geruime tyd in Frankryk woon.
Ná matriek is sy vir ’n jaar as uitruilstudent na Brasilië. Met haar terugkeer op ’n snikhete Januarie-dag in die Paarl, was ek oorstelp van vreugde om haar weer tuis te hê. Ek het aangebied om haar na enige restaurant in die Kaap te neem – maak nie saak van die koste nie. Maar nee, sy verlang na waterblommetjiebredie, sê sy!
So, terwyl winter nog oor my mooie vallei hang, steek ek die kaggel aan, maak die rooiwyn oop en beplan sommer reeds wanneer ’n pluksel vars waterblommetjies in my swart pot gaan beland – saam met smaaklike skaapvleis en net die regte hoeveelheid suurlemoensap en witpeper, want daardie balans is noodsaaklik vir ’n geslaagde blommetjiebredie.

Waterblommetjiebredie vir ses honger mense
- 2 kg lamsvleis (ribbetjie en skenkel)
- 1 kg vars waterblommetjies
- 4 aartappels, geskil en in blokkies gesny
- 1 groot ui, fyngekap
- Sout en witpeper na smaak
- Die sap van twee suurlemoene (of meer, na smaak)
- 3 heel naeltjies
- ¾ koppie water
- ¾ koppie droë witwyn
- Heel neut
Verhit jou pot en braai die vleis liggies bruin. Voeg die uie by en soteer tot deurskynend. Geur met ’n bietjie sout en peper, maar moenie te veel op hierdie stadium bysit nie. Voeg die helfte van die waterblommetjies by. Voeg daarna die wyn, water en naeltjies by en laat die pot stadig prut met die deksel op vir ongeveer ’n uur en ’n half. Roer so min as moontlik; kyk net gereeld dat daar genoeg vloeistof is, en voeg indien nodig meer wyn of water by.
Voeg nou die res van die waterblommetjies, aartappels en suurlemoensap by. Die gereg hoort ’n kenmerkende suurlemoen- en pepergeur te hê – pas dit aan indien nodig. Laat die pot vir nóg 45 minute saggies prut.
Bedien warm saam met ‘n bietjie vars gerasperde neut bo-oor en met witrys en soetpatats.
Waterblommetjiefees in die Agter-Paarl
Kom kuier gerus op Saterdag, 6 September, by die Waterblommetjiefees in die Agter-Paarl by Windmeul, Rhebokskloof en Domaine Brahms-wynkelders. Hier wag ’n fees van waterblommetjie-geregte, bekroonde wyne en ’n hele paar verrassings vir oud en jonk. Vir die volledige program van aktiwiteite besoek www.waterblommetjiefees.com.
LEES OOK: Lekka, lekka waterblommetjies






You must be logged in to post a comment.