Agri Wes-Kaap sê die onlangse vloede wat groot dele van die Wes-Kaap getref het, kan as die ergste in die afgelope 100 jaar beskou word, met ernstige skade aan infrastruktuur, boerderye en landboubedrywighede regoor die provinsie.
Volgens Rojeanne de Wet, skakelbeampte van Agri Wes-Kaap, is meer as 100 000 inwoners deur die vloede geraak, terwyl duisende mense na gemeenskapsale verskuif moes word. Teen 19 Mei was 99 paaie steeds gesluit en 21 paaie gedeeltelik toeganklik of slegs vir inwoners oop.
De Wet sê die landbousektor verkeer reeds onder groot finansiële druk weens stygende produksiekoste en uitdagende wêreldmarktoestande, en dat die vloede verdere druk op produsente geplaas het.
“Vir boere het die vloede ‘n ernstige impak op landboubedrywighede gehad in ‘n tyd waarin die sektor reeds onder groot finansiële druk verkeer.”
Volgens die verklaring het talle boere waterpompe, kritieke waterinfrastruktuur, tonnels, boorde, huise en plaasgeboue in die storms verloor. Sitrusprodusente in die Weskusdistrik is veral swaar getref omdat die vloede saamgeval het met die piek-oestydperk.

“Overstroomde paaie en beskadigde infrastruktuur het dit vir baie boere onmoontlik gemaak om hul sitrusoes te oes of te vervoer,” verduidelik De Wet.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is tans besig om die volle omvang van die skade te bepaal. Voorlopige resultate van sowat 1 400 respondente dui reeds op beraamde verliese van meer as R520 miljoen.
Die Tuinroete-distrik het volgens Agri Wes-Kaap die meeste padsluitings ervaar ná twee periodes van swaar reën tussen 5 en 11 Mei. In verskeie gebiede, waaronder Beaufort-Wes, George, Uniondale, Oudtshoorn, Worcester en Klaarstroom, is meer as 100 mm reën binne ’n enkele dag aangeteken.
Ten spyte van die skade het die storms ook broodnodige verligting vir damvlakke gebring. Die provinsie se gemiddelde damvlakke het van 52,5% voor die storms tot 70,6% ná die reën gestyg. Die Theewaterskloof Dam het van 58,8% tot 71,5% gestyg, terwyl die Clanwilliam Dam van 29,4% tot 88,3% verhoog het.
“Agri Wes-Kaap is deeglik bewus van die verliese en skade wat boere as gevolg van die vloede ervaar. Die herstel van kritieke infrastruktuur, soos paaie en kragpale, bly van kardinale belang,” sê De Wet.
Sy het bygevoeg dat Agri Wes-Kaap saam met die Wes-Kaapse Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur en Eskom werk om boere se behoeftes onder die aandag van owerhede te bring terwyl herstelwerk voortduur.







You must be logged in to post a comment.