CITRUSDAL – Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het Maandag die kritiese hoofpad wat die Weskus-dorp Citrusdal met die N7-snelweg verbind, amptelik heropen ná uitgebreide herstelwerk wat meer as R38 miljoen gekos het.
Die lewensbelangrike toegangsroete is ernstig beskadig deur verwoestende vloede in 2023 en weer in 2024, toe die rivieroewer gebars het en die loop van die Olifantsrivier verander het, wat groot dele van die pad weggespoel het.
Citrusdal, ‘n belangrike sitrusverbouing-area, is besonder hard getref met die verspoeling van die toegangsroete na die dorp, wat ‘n beduidende impak op die plaaslike ekonomie en die welstand van inwoners gehad het.

Die rekonstruksie van die roete is om humanitêre redes as ‘n noodprojek verklaar, met ‘n kernfokus op die herstel van roete asook die skep van ‘n meer vloedbestande pad wat toekomstige vloed-voorvalle beter kan hanteer.
Die rivieroewer moes eers herstel word, waarna beduidende werk op die pad self voltooi is, wat ‘n meer doeltreffende pad en oppervlak insluit om soortgelyke insidente beter te kan weerstaan.
Ekonomiese belangrikheid beklemtoon
“Die koste van hierdie werke in die 2023/24 finansiële jaar was R12,2 miljoen, en ‘n beraamde R26 miljoen is aan die projek in die 2024/25 finansiële jaar spandeer,” het Simmers gesê.
“Ons verstaan infrastruktuurwerke, in hierdie geval vervoer-infrastruktuurwerke, as ‘n bemagtiging van ekonomiese groei en ‘n ondersteuning vir die belangrike sitrusbedryf van die Wes-Kaap,” het hy bygevoeg.
“Met hierdie projek het ons meer gedoen as om net ‘n pad te vervang. Ons het dit eerder herbou en opgegradeer vir die toekoms, om te verseker dat Citrusdal se skakel met die Wes-Kaap se vervoer-ekosisteem vir jare vorentoe onaangeraak bly.”
LEES MEER: Oorstrommings veroorsaak groot skade






You must be logged in to post a comment.