Juffrou sterf toe skoolbus van die Laerskool Kathu teen vragmotor bots

Die toneel op die N14 waar die bus van die Laerskool Kathu, wat 44 leerlinge en 10 onderwysers na 'n sportdag vervoer het, Saterdagoggend omstreeks 07:20  in 'n noodlottige ongeluk was.
Die toneel op die N14 waar die bus van die Laerskool Kathu Saterdagoggend  in ‘n noodlottige ongeluk was. FOTO: Verskaf

Juffrou sterf toe skoolbus van die Laerskool Kathu teen vragmotor bots

Die toneel op die N14 waar die bus van die Laerskool Kathu, wat 44 leerlinge en 10 onderwysers na 'n sportdag vervoer het, Saterdagoggend omstreeks 07:20  in 'n noodlottige ongeluk was.
Die toneel op die N14 waar die bus van die Laerskool Kathu Saterdagoggend  in ‘n noodlottige ongeluk was. FOTO: Verskaf

KATHU – ‘n Donker wolk van rou hang oor die Laerskool Kathu nadat ‘n vroulike onderwyser vanoggend gesterf het toe die skool se bus met leerders en personeel op die N14 tussen Kathu en Kuruman in ‘n ernstige ongeluk betrokke was. 

Die bus was op Saterdag 13 Junie omstreeks 07:20 onderweg na die Laerskool Seodin in Kuruman, waar rugby- en netbalspanne van die Laerskool Kathu aan die eindronde van die Van Druten-sportliga sou deelneem.

Die bus het 44 leerders en 10 onderwysers vervoer. 

Volgens inligting wat aan Nova News beskikbaar gestel is, het die bus teen ‘n vermoedelik stilstaande vragmotor gebots, sowat 10 km buite Kuruman. Die presiese oorsaak van die botsing word deur die polisie ondersoek.

Skool se personeel swaar getref

Te midde van die tragedie was daar groot verligting dat geen leerder op die bus ernstige beserings opgedoen het nie. Die kinders is medies geëvalueer en het behandeling ontvang. 

Die ongeluk het egter ‘n swaar tol onder die personeel geëis. ‘n Onderwyser het noodlottige beserings opgedoen waaraan sy beswyk het. Vier ander personeellede is ernstig beseer. Van die beseerdes moes per lugambulans na Bloemfontein en Kimberley vervoer word om dringende behandeling te ontvang.

Vyf volwassenes moes na die Kathu-hospitaal vervoer word, waarna die ernstig beseerdes per lugambulans oorgeplaas is.
Vyf volwassenes, onder wie die busbestuurder, moes na die Kathu-hospitaal vervoer word, waarna die ernstig beseerdes per lugambulans na Bloemfontein en Kimberley oorgeplaas is om spesialisbehandeling te ontvang. Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk, terwyl boodskappe van meegevoel van oor die land heen instroom.  FOTO: Verskaf

Kort ná die ongeluk het die Laerskool Kathu ‘n boodskap op sy Facebook-blad geplaas waarin die skoolgemeenskap gevra is om die betrokkenes in hul gebede te onthou.

“Daar was ‘n ernstige ongeluk met een van ons busse vroeër vanoggend op pad Kuruman toe. Ons leerders is ongedeerd. Hou asseblief ons onderwysers, kinders en ouers in jul gebede,” het die skool geskryf. 

Ondersteuning word gebied

Die Noord-Kaapse departement van onderwys het in ‘n verklaring gesê die tragedie het die hele onderwysgemeenskap van die provinsie diep geraak. Die departement het onmiddellik sielkundige en maatskaplike ondersteuning beskikbaar gestel aan leerders, onderwysers en families.  

‘n Beradingsessie sal op Maandag 15 Junie by die skool aangebied word om die skoolgemeenskap in hierdie moeilike tyd verder te ondersteun.

Die woordvoerder vir die Noord-Kaapse polisie, adjudant-offisier Molefi Shemane, het bevestig dat die Kuruman-polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek. 

“Die bus was met leerlinge van ‘n laerskool in Kathu onderweg na ‘n sportgeleentheid in Kuruman toe die ongeluk plaasgevind het,” het Shemane bevestig. 

Die polisie het bevestig dat vyf volwassenes, onder wie die bestuurder van die bus, na ‘n hospitaal in Kathu vervoer moes word om mediese behandeling te ontvang. Van die ernstig beseerdes is daarna na Bloemfontein en Kimberley oorgeplaas om verdere spesialisbehandeling te ontvang.

Terwyl ondersoekers steeds probeer vasstel wat die noodlottige botsing veroorsaak het, stroom boodskappe van meegevoel en ondersteuning vanuit die hele Noord-Kaap en van oral in die land in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article