‘n Gesin van Kathu in die Noord-Kaap se vakansie aan die Wildekus is kortgeknip ná ‘n pofadder hul jongste dogter gepik het.
Jaco en Melanie Louw, asook die negejarige Carmi en ousus Eliana, was nog nie eens ‘n week in Cinsta nie toe ‘n pofadder vir Carmi aan die linkerkuit gepik het.
Kort voor die voorval op Donderdag 2 April het Carmi op die voetpaadjie, binne sig vanaf die vakansiehuis, na die strandmeer gestap toe haar pa wat op die stoep gesit het, haar “slang” hoor gil het.

Hy het soontoe gehardloop, en kon die tandmerke aan haar been sien. Van die slang was daar geen teken nie. Carmi is onmiddellik na Oos-Londen geneem waar hulle na die Life Beacon Bay-hospitaal verwys is.
Marisa Adendorff, ‘n vriendin van Melanie, vertel dat aanvanklik vermoed is dat ‘n nagadder vir Carmi gepik het. Die tipe swelling en reaksie wat sy egter in die hospitaal getoon het, het dokters oortuig dat dit deur ‘n pofadder toegedien is.
Vanaf vroeg Vrydag het die swelling in Carmi se linkerbeen so drasties toegeneem dat insnydings (fassiotomie) in die bindweefsel gemaak is om die swelling te verminder om bloed- en suurstoftoevoer te verbeter. Hoewel die swelling stelselmatig afgeneem het, het Carmi intense pyn beleef, en het ook op ‘n stadium koors gehad. Teen Sondag kon waargeneem word dat haar voet minder blou is, wat beter bloed- en suurstoftoevoer beteken het.
Gedurende Carmi se verblyf in die hospitaal maak Jaco en Melanie beurte om by haar te oornag. Eliana is intussen terug in Kathu waar sy by huisvriende tuisgaan en haar plek in haar graad ses-klas by Laerskool Kathu ingeneem het.


Goeie wense en ondersteuning
Aan ondersteuning ontbreek dit nie. Marisa, wie vroeër in Kathu gewoon het en nou in Middelburg in Mpumalanga, het oor die naweek Oos-Londen toe gevlieg om haar vriendin by te staan.
Ook word boodskappe van beterskap en seënwense gereeld op die Facebook-blad Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control geplaas. Boonop het Eduanne Niemand, stigter van dié onderneming en bekend as “slangvanger” en die “slangou” R3 000 na die Louws oorbetaal. Dié geld is afkomstig van skenkings wat die Facebook-blad van volgelinge ontvang. In sy plasing skryf Niemand dat die Louws heelwat onvoorsiene uitgawes het met Carmi se hospitalisasie so ver van die huis.
Donderdagmiddag is Carmi weer in die teater opgeneem. Laatmiddag het Jaco laat weet dat Carmi uit die teater is, dat al die insnydings met steke geheg kon word, en dat veloorplantings nie nodig is nie.
“Hulle lyk regtig baie tevrede en glo dat dit die laaste operasie sal wees. Carmi was wel in ontsaglik baie pyn toe sy wakker word,” sê Jaco. Sterk pynmedikasie word tans aan haar toegedien.

Die Louws bedank die verpleegpersoneel en dokters by die pediatriese hoësorgeenheid van die Life Beacon Bay-hospitaal wie uit hul pad gaan om na Carmi om te sien en hulle te ondersteun.
“Ons is maar broos, maar ons staan sterk vir haar en hou net vas aan die Here se genade. Dankie dat julle bid, en vir goeie wense en ondersteuning,” sê die Louws.
Intussen hoop hulle van harte dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat Jaco weer sy plek by Maatla Signs in Kathu kan inneem, Melanie haar plek as ‘n eiendomsagent by Seeff, en Carmi kan terugkeer na haar plek in die graad 3-klas van die Laerskool Kathu.
LEES OOK: Pofadder pik vyfjarige: Dankbaarheid seëvier te midde van trauma





You must be logged in to post a comment.