KYK | Só lyk pofadder wat vyfjarige seuntjie byt; kind sterk tuis aan

Raiden Brink ontslaan van die hospitaal.
Raiden Brink ontslaan van die hospitaal.

KYK | Só lyk pofadder wat vyfjarige seuntjie byt; kind sterk tuis aan


HOPEFIELD – Om deur ‘n slang gepik te word, is seker een van die grootste vrese wat vir enige mens bewaarheid kan word.

Vir die vyfjarige Raiden Brink het dié vrees op Woensdag 7 Oktober ‘n werklikheid geword toe hy deur ‘n pofadder gepik is terwyl hy buite op die plaas waar hy en sy gesin woon, gespeel het.

Volgens Schalk Bester, plaasbestuurder van die Waterboerskraal-plaas, was hy op ‘n ander plaas besig toe hy die oproep ontvang het oor wat gebeur het.

“Hulle het my histeries gebel om te vertel wat gebeur het. Hulle het hom ingelaai en na die Moorreesburg-kruising waar ek gewag het, gebring. Ek het toe verder met hom in die rigting van Malmesbury gejaag.”

Bester het intussen die noodpersoneel van West Coast Medical Rescue geskakel en hulle het hom langs die pad gekry.

Hy het die ambulans halfpad ontmoet, waarna Raiden op ‘n drup geplaas en daar met hom hospitaal toe gejaag is.

Volgens Bester is daar vasgestel dat dit ‘n droë byt was en dat geen gif ingespuit is nie.

Die pofadder het Raiden op sy been gepik.
Die pofadder het Raiden op sy been gepik.

“Toe hy by my inklim, was hy baie stil. Ek dink dit was maar die skrik en angs, veral omdat hy net vyf jaar oud is,” sê hy.

Bester het ook ‘n vriend wat naby Moorreesburg woon, gebel om te kom help om die slang te vang.

“Toe ek hoor wat gebeur het, het ek dadelik vir Eduanne van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control wat ek op sosiale media volg, gekontak vir raad. Hy het ons baie gehelp en op die regte pad gelei. Ek moet sê, die ambulans was ook baie vinnig,” vertel Bester.

Volgens Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control is pofadders van die giftigste slange wat in die Wes-Kaap voorkom.

“Pofadders slaan die vinnigste van alle slangspesies in Afrika toe. ‘n Mens moet binne vier tot vyf uur by ‘n hospitaal aankom. Moenie ‘n toerniket aanwend nie. Die dokter moet die pasiënt dadelik op ‘n binneaarse drup plaas,” verduidelik Niemand.

Die pofadder wat vyfjarige Raiden Brink gepik het, is suksesvol gevang.

Hy voeg by dat dit belangrik is om kalm te bly wanneer iemand deur ‘n slang gepik word.

“Hou die pasiënt rustig en neem hom of haar so gou moontlik hospitaal toe. Moenie soos ’n afkophoender rondhardloop nie, en moenie ’n toerniket om die ledemaat vasmaak nie, want dit kan verdere weefselskade veroorsaak. Probeer altyd ’n foto van die slang neem om vir die dokter te wys, of kontak ’n slangspesialis of herpetoloog,” sê hy.

Vir Bester, wat al jare op die plaas woon, was dit die eerste keer dat hy ’n pofadder daar teëgekom het.

Almal is egter dankbaar dat Raiden weer tuis is en sy gelukkige self kan wees.

LES OOK: Kenner gee raad as jy dalk ’n slang teëkom

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 8 October 2026
    Weslander E-Edition – 8 October 2026

Gift this article