Weslander

Pato 10: Hofsaak oor R300 miljoen uitgestel om klagstaat te finaliseer

Hofsake | In Court
Hofsake | In Court

VREDENBURG – Die nege sakemanne en ‘n sakevrou van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad wat op aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen en onder meer die oortreding van die Maatskappywet tereg staan, het weer vlugtig in die Vredenburg-distrikshof verskyn.

Die saak is uitgestel sodat die klagstaat gefinaliseer kan word, daar besluit kan word of nóg aanklagtes bygevoeg gaan word en om na moontlike kuratorskap van een beskuldigde te kyk.

Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Albert Marais (68), Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky het vandag (Vrydag 13 Februarie) vlugtig in die Vredenburg-distrikshof verskyn.

Die beskuldigdes in die Paternoster-bedrogsaak van R300  miljoen en 'n beweerde gekonkel met aandeelpryse is, van links, Meiring Tarrant, Petrus Marais, André Eigelaar (in tweede bank), Bennie Lubbe, Kobus Pienaar (in tweede bank), Nico Latsky, Albert Marais en Minette Louw.
Tydens ‘n vorige verskyning: Die beskuldigdes in die Paternoster-bedrogsaak van R300  miljoen en ‘n beweerde gekonkel met aandeelpryse is, van links, Meiring Tarrant, Petrus Marais, André Eigelaar (in tweede bank), Bennie Lubbe, Kobus Pienaar (in tweede bank), Nico Latsky, Albert Marais en Minette Louw.

Die beskuldigdes se maatskappye word ook aangekla aangesien dié entiteite na bewering die markmanipulasie gelei het. Dit sluit, benewens die Paternoster Groepbelange (PGB), ook AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais), Oulap (Pienaar), Visprodusente en Uitvoerders (Pienaar en Mienie), die Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe), die prokureursfirmas Ingwesen, Feenstra en Marais van Wellington (Petrus Marais) en Marais Müller Henricks van Kaapstad (Albert Marais), asook ’n Durbanville-ouditeursfirma, PKF Kaapstad (Lubbe en Louw), in.

Die nuwe staatsaanklaer, senior staatsadvokaat Thersia du Toit-Smit, het sedert hul vorige verskyning die saak by adv. Louis van Niekerk oorgeneem. Sy is bekend vir haar werk as spesialisaanklaer in handelsmisdaadaangeleenthede by die Skerpioene (direktoraat van spesiale optredes) en nou by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Sy het aangedui dat sy die geleentheid gebruik het wat haar sedert die vorige hofverskyning in November verlede jaar gegun is om deur die hofdokumente te werk.

Sy het gesê sy gaan verskeie veranderinge aan die bestaande klagstaat aanbring, wat moontlik ook insluit om nóg klagtes by die ellelange lys van bestaande klagtes te voeg.

Die klagtes hou verband met oortredings ingevolge Artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (Precca) van 2004 en handel oor die verpligte aanmelding van korrupsie.

Volgens die departement van justisie se webwerf is enige persoon in ’n gesagsposisie (soos ’n bestuurder, direkteur, munisipale amptenaar of hoof van ’n instelling) verplig om korrupsie by die polisie aan te meld as hy of sy weet of redelikerwys vermoed dat ’n korrupte transaksie van R100 000 of meer plaasgevind het. As so ’n persoon dit nie aanmeld nie, pleeg hy of sy self ’n misdryf.

In leke taal beteken dit Artikel 34 maak dit ’n wetlike plig vir senior persone in ‘n maatskappy om ernstige korrupsie aan te meld, en om stil te bly is ook strafbaar.

Die beskuldigdes het nou tyd om vóór die einde van April skriftelik redes in te handig waarom hulle níé die beweerde korrupsie aan die polisie gerapporteer het nie. Die NVG sal dan besluit of die klagtes by die klagstaat gevoeg sal word, of nie.

Verder het die verdediging ‘n versoek gebring dat Johan Eigelaar onder kuratorskap geplaas moet word. Daar moet nou bepaal word of aan dié versoek gehoor gegee moet word, en daarvoor sal die beskuldigde vir observasie moet gaan.

Du Toit-Smit het aangedui dat uitsluitsel daaroor met die volgende hofverskyning op 15 Mei gegee sal word.

Lang lys bestaande aanklagte:
Van die bestaande aanklagte van bedrog, die oortreding van die Maatskappywet en die Wet op Finansiële Markte, is bylaevyf-oortredings wat as ernstige misdade beskou word en tot langer tronkstraf kan lei.

Die beskuldigdes staar ook ‘n aanklag van regsverydeling in die gesig.

Kobus Pienaar, Petrus Marais en André en Johan Eigelaar, niebeherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok (die Eigelaar-, Pienaar- en Marais-families) word ook van diefstal aangekla. Dit hou verband met onwettige reistoelae tussen 2006-2019 van sowat R184 000 per jaar.

Die ouditeure – Lubbe, Louw en PKF Kaapstad word van die oortreding ingevolge die Wet op die Ouditprofessie aangekla.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 amper 13 jaar aandeelpryse gemanipuleer het deur as meerderheidsaandeelhouers die minderheidsaandeelhouers te bedrieg en aandele teen baie minder as wat dit werd is, terug te koop. Dit is ‘n soort maatskappytransaksie wat bykomende regulatoriese ondersoek en vereistes veroorsaak, insluitend goedkeuring van die Oornamereguleringspaneel.

Hulle beweerde vals en misleidende wanvoorstellings het tot verliese van ‘n geraamde R300 miljoen vir minderheidsaandeelhouers gelei.

Adv. Leon van der Merwe het namens al die beskuldigdes opgetree. Volgens hulle borgtogvoorwaardes mag hulle nie met die staat se 19 getuies inmeng of hulle intimideer nie.

Du Toit-Smit het dit ook op rekord geplaas dat die staat dit oorweeg om die hofsaak na die hooggeregshof oor te plaas.

Landdros Elisma Postma het die saak na Vrydag 15 Mei uitgestel.

Die beskuldigdes se borgtog van R10 000 bly steeds van krag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article