Die beskuldigdes in die Paternoster-bedrogsaak van R300  miljoen en 'n beweerde gekonkel met aandeelpryse is, van links, Meiring Tarrant, Petrus Marais, André Eigelaar (in tweede bank), Bennie Lubbe, Kobus Pienaar (in tweede bank), Nico Latsky, Albert Marais en Minette Louw.
Die beskuldigdes in die Paternoster-bedrogsaak van R300  miljoen en ‘n beweerde gekonkel met aandeelpryse is, van links, Meiring Tarrant, Petrus Marais, André Eigelaar (in tweede bank), Bennie Lubbe, Kobus Pienaar (in tweede bank), Nico Latsky, Albert Marais en Minette Louw.

Benewens die aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen en die oortreding van die Maatskappywet, staar drie van die tien beweerde aandeelpryskonkelaars nou ook aanklagte van diefstal in die gesig.

Die nege sakemanne en ‘n sakevrou van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad, wat in Mei vanjaar in hegtenis geneem is, het die afgelope Dinsdag (29 Julie) weer in die Vredenburg-streekhof verskyn.

Die saak het ‘n vol hofsaal getrek. Die beskuldigdes in die beskuldigde bank is (van links) Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky. Foto: Alida Buckle

Sake teen drie van die sakemanne – Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky – is by die hofsitting by die res gevoeg. Hulle was óf nie in die land met die inhegtenisnemings op Donderdag 29 Mei nie, óf besig met mediese behandelings.

Ná die sewe se inhegtenisneming het hulle dieselfde dag nog in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Finansiële Markte en die Maatskappywet – bylae vyf-oortredings wat as ernstige misdade beskou word en tot langer tronkstraf kan lei.

Adv. Louis van Niekerk, ‘n senior staatsadvokaat van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in Kaapstad, het dié week ‘n aangepaste klagstaat aan die hof voorgelê.

Daarin is ‘n aanklag van regsverydeling teen al die beskuldigdes bygevoeg. Aanklagte van diefstal is ook bygevoeg teen die drie nie-beherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok – die Eigelaar-, Pienaar- en Marais-families. Kobus Pienaar, Petrus Marais en André en Johan Eigelaar het na bewering sedert 2006 tot 2019 onwettig reistoelae van sowat R184 000 per jaar ontvang sonder die goedkeuring of magtiging van die aandeelhouers en wat teenstrydig met die Maatskappywet is.

Pienaar het in 2003 en 2009 oorsee gereis, Marais in 2003, 2008, 2012 en 2016, André Eigelaar in 2002, 2007, 2009 en 2013 en Johan Eigelaar in 2004, 2009 en 2013. Luidens die klagstaat het PKF Kaapstad dit as “salarisse” beskou.

Marais, Lubbe en Latsky het Dinsdag met hul eerste hofverskyning verklarings ingehandig oor die redes waarom hulle nie die vorige keer saam met die ander kon verskyn nie. Hulle het ook borgtog van R10  000 elk gekry – nes die ander beskuldigdes.

Die Valke het Kobus Pienaar, André en Johan Eigelaar, Carel Mienie, Meiring Tarrant, Minette Louw en Albert Marais op Donderdag 29 Mei in hegtenis geneem.

Lubbe, Louw en PKF Kaapstad word van die oortreding van die Wet op die Ouditprofessie aangekla.

Die beskuldigdes se maatskappye word ook aangekla omdat dié entiteite die markmanipulasie voorgegaan het. Dit behels benewens PGB ook AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais), Oulap (Pienaar), Visprodusente en Uitvoerders (Pienaar en Minnie), die Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe), die prokureursfirmas Ingwesen, Feenstra en Marais van Wellington (Petrus Marais) en Marais Müller Henricks van Kaapstad (Albert Marais), sowel as ‘n Durbanvillese ouditeursfirma, PKF Kaapstad (Lubbe en Louw).

Die hooffluittjieblaser in die saak beweer die beskuldigdes het geweet die oortreding kan tronkstraf beteken, maar geglo hulle sal niks oorkom “as niks . . . uitkom nie”. Luidens die klagstaat is die ongerymdhede op direksievergaderings van die PGB bespreek, maar daar is te kenne gegee dat niemand oor die oortredinge sal uitpraat nie.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 – amper 13 jaar – aandeelpryse gemanipuleer het deur as meerderheidsaandeelhouers die minderheidsaandeelhouers te bedrieg en aandele teen baie minder as wat dit werd was, terug te koop.

Die besluit om die aandele terug te koop het luidens die klagstaat begin by ‘n e-pos op 18 April 2005 van William Marais aan Pienaar, destyds ‘n alternatiewe direkteur van PGB. Daarin het hy maniere bespreek vir die beherende aandeelhouers in PGB om die minderheidsaandeelhouers in daardie maatskappy uit te koop. In ‘n e-pos op 23 Mei 2005 van William Marais aan Pienaar skryf hy dat so ‘n uitkoop ‘n “geaffekteerde transaksie” sou wees. Dit is ‘n spesifieke soort maatskappytransaksie wat bykomende regulatoriese ondersoek en vereistes veroorsaak, insluitend goedkeuring van die Oornamereguleringspaneel. Die beskul- digdes se daaropvolgende beweerde vals en misleidende wanvoorstellings het tot verliese van ‘n geraamde R300 miljoen vir minderheidsaandeelhouers gelei.

Die beskuldigdes het byvoorbeeld nié die minderheidsaandeelhouers in 2005 ingelig dat die aandele teen R138 per aandeel verhandel en daarna in waarde toegeneem het nie. Die beskuldiges het glo aan aandeelverkopers voorgegee die aandeelprys het in 2006-’17 net van R13,50 tot R16,83 gestyg en dat die mark “gesluit” is.

Die fluitjieblaser het hom in 2014 by PGB aangesluit, op die ongerymdhede afgekom en dit op vergaderings en in e-posse aan die bestuur oorgedra. Die fluitjieblaser het later regsmenings ingewin oor die beweerde “binnehandel” voordat hy die saak by die Valke aangemeld het.

Terrant het as destydse bedryfsbestuurder van PGB tot 31 Maart 2017 saam met Petrus Marais en sy prokureursfirma alle versoeke vir die aandeleoordrag in PGB sowel as sy houermaatskappye hanteer.

Hofstukke dui verder aan dat die EPM-blok sowel as Pienaar in sy persoonlike hoedanigheid in die eerste jaar ná die waardasie, 100% van die aandele wat beskikbaar geword het, gekoop het. Dié 174 713 aandele wat sedert 2008 deur die EPM-blok teruggekoop is, verteenwoordig ‘n prysverskil van R200 per aandeel, wat aan hulle ‘n onbehoorlike voordeel van R35  miljoen besorg het.

Die klagstaat lui dat die fluitjieblaser geweier het om ‘n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken. Hy het ook geweier om terug te staan oor die onwettige aandelehandel en is dissiplinêr aangekla. Hy het in Oktober 2019 ‘n skeidingspakket van R1 743 134 aanvaar en die maatskappy in Desember 2019 verlaat. Daarna is ‘n strafregtelike klagte teen die beskuldigdes ingedien.

Minderheidsaandeelhouers wat hul aandele wou verkoop, is nooit ingelig dat Petrus Marais ‘n nie-beherende direkteur van beide PGB (wie se aandele hy help verhandel het) én Belhoewe (‘n aandeelkoper) is nie. Hy het na bewering aan minderheidsaandeelhouers gesê daar is “geen werklike belangstelling in hierdie aandele” nie. Aangesien daar geen ander plek was om die aandele te verkoop nie, het Petrus Marais na bewering aandele ter waarde van R200 per aandeel teen R16,83 teruggekoop.

Luidens die klagstaat het PGB van 2006 tot 2017 gegroei. Die 60%-aandeel van PGB in Paternoster Vissery is in 2006 op R10,9 miljoen gewaardeer. ‘n Aanbod van R70 miljoen vir dieselfde aandeelhouding is in 2017 ontvang.

Die borgtogvoorwaardes is weer vandeesweek in die hof voorgelees. Die beskuldigdes mag op geen manier met die staat se 19 getuies inmeng of hulle intimideer nie. Indien hulle oorsee of elders wil reis, moet hulle dit vooraf met die ondersoekbeampte uitklaar.

Landdros Theresa Postma hoor die saak aan.

‘n Groep ontstoke inwoners van Paternoster het die hofsaak bygewoon. “Hulle het gemaak en gebreek soos wat hulle wou,” was die gevoel onder hulle oor die beskuldigdes in die bedrogsaak. Foto: Alida Buckle

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article