WESKUS – Dit was ʼn vlugtige verskyning in die Vredenburg-distrikshof vandag (Vrydag 21 November) vir die tien beskuldigdes van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad, in die grootste bedrogsaak wat die Weskus nog beleef het.
Die nege sakemanne en ‘n sakevrou wat in Mei vanjaar in hegtenis geneem is, staar aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen en die oortreding van die Maatskappywet in die gesig. Nóg aanklagte gaan moontlik bygevoeg word.
Die saak is uitgestel om die nuwe staatsaanklaer, senior-staatsadv. Thersia Du Toit-Smit, op die rol te plaas en haar die geleentheid te gun om deur die hofdokumente te werk. Du Toit-Smit, wat die saak by adv. Louis van Niekerk oorneem, is bekend vir haar werk as spesialis-aanklaer in handelsmisdaadaangeleenthede by die Skerpioene (Direktoraat van Spesiale Operasies) en nou by die Nasionale Vervolgingsgesag.
Die beskuldigdes in die saak is Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Albert Marais (68), Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky.

Hulle maatskappye word ook aangekla omdat dié entiteite die markmanipulasie voorgegaan het. Dit behels benewens die Paternoster Groepbelange (PGB) ook AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais), Oulap (Pienaar), Visprodusente en Uitvoerders (Pienaar en Minnie), die Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe), die prokureursfirmas Ingwesen, Feenstra en Marais van Wellington (Petrus Marais) en Marais Müller Henricks van Kaapstad (Albert Marais), sowel as ‘n Durbanvillese ouditeursfirma, PKF Kaapstad (Lubbe en Louw).
Die beskuldigdes staar aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen en die oortreding van die Maatskappywet in die gesig. ʼn Oortreding van die Wet op Finansiële Markte en die Maatskappywet is ʼn bylae vyf-oortreding wat as ernstige misdade beskou word en tot langer tronkstraf kan lei.
Verder is ʼn aanklag van regsverydeling teen al die beskuldigdes en ʼn klag van diefstal teen Kobus Pienaar, Petrus Marais en André en Johan Eigelaar, nie-beherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok (die Eigelaar-, Pienaar- en Marais-families) bygevoeg. Hulle het na bewering sedert 2006 tot 2019 onwettig reistoelae van sowat R184 000 per jaar ontvang sonder die goedkeuring of magtiging van die aandeelhouers, wat teenstrydig met die Maatskappywet is.
Lees ook: R300 miljoen Paternoster-bedrogsaak: Nóg aanklagte bygevoeg
Die ouditeure, Lubbe, Louw en PKF Kaapstad word van die oortreding van die Wet op die Ouditprofessie aangekla.
Die hooffluittjieblaser in die saak beweer die beskuldigdes het geweet die oortreding kan tronkstraf beteken, maar geglo hulle sal niks oorkom “as niks . . . uitkom nie”. Luidens die klagstaat is die ongerymdhede op direksievergaderings van die PGB bespreek, maar daar is te kenne gegee dat niemand oor die oortredinge sal uitpraat nie.
Die staat voer aan dat die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 – amper 13 jaar – aandeelpryse gemanipuleer het deur as meerderheidsaandeelhouers die minderheidsaandeelhouers te bedrieg en aandele teen baie minder as wat dit werd was, terug te koop. Dit is ‘n soort maatskappytransaksie wat bykomende regulatoriese ondersoek en vereistes veroorsaak, insluitend goedkeuring van die Oornamereguleringspaneel.
Luidens die klagstaat, het die beskuldigdes se daaropvolgende beweerde vals en misleidende wanvoorstellings tot verliese van ‘n geraamde R300 miljoen vir minderheidsaandeelhouers gelei.
Die borgtogvoorwaardes behels onder meer dat die beskuldigdes op geen manier met die staat se 19 getuies mag inmeng of hulle intimideer nie. Indien hulle oorsee of elders wil reis, moet hulle dit vooraf met die ondersoekbeampte uitklaar.
Du Toit-Smit het aangedui dat die aangepaste klagstaat wat vroeër vanjaar deur Van Niekerk aan die hof voorgelê is, onveranderd gaan bly, behalwe dat daar moontlik nóg aanklagtes bygevoeg gaan word.
Landdros Hayley Kinnear het die saak uitgestel na Vrydag 13 Februarie vir die prokureurs en advokate om verdere instruksies te neem. Die beskuldigdes bly op borgtog, wat teen R10 000 elk aan hulle toegestaan is.





You must be logged in to post a comment.