KAAPSTAD – Eer is bewys aan die ondersoekspan van die Joshlin Smith-saak tydens die Wes-Kaapse polisie-toekennings.

Die geleentheid het op 17 Januarie by die Century City Convention Centre plaasgevind, waar kapt. Wesley Lombard, die hoofondersoekbeampte, en sy span as die beste speurspan aangewys is. Volgens Lombard beteken hierdie toekenning baie:

“Die span het uiters hard gewerk om Joshlin suksesvol op te spoor en ’n gehalte-ondersoek te verseker wat in die verhoor aangebied kon word. Wat bygedra het tot hierdie toekenning, is ons vertroue in die Here, toewyding, dissipline en die ondersteuning van die polisie en die gemeenskap.”

Advokaat Aradhana Heeramun, Tamsyn James, sers. Felecia Johnson, sers. Nkhosinati Sangcozi, kapt. Wesley Lombard, AO Dawid Fortuin, advokaat Zelda Swanepoel, sers. Monolitho Haywood en AO Madri van der Walt. Foto: Verskaf

Joshlin (toe ses jaar oud) het op 19 Februarie 2024 uit Middelpos, Saldanha, vermis geraak, ’n saak wat Weskussers en talle mense regoor die wêreld diep geraak het.

Die beskuldigdes Kelly Smith (Joshlin se ma), Steveno van Rhyn en Boeta Appolis is op 29 Mei 2025 gevonnis. Hulle het lewenslange tronkstraf gekry op die aanklag van mensehandel en tien jaar op die klag van ontvoering.

Kapt. Wesley Lombard, hoofondersoekbeampte van die saak, sê dat die ondersoek steeds aan die gang is en dat hulle hul uiterste bes probeer om Joshlin op te spoor. “Saam kan ons hoogtes bereik en saamwerk met ’n suiwer hart, suiwer bedoelings en fokus op die taak by die huis. Leef te alle tye volgens die beginsel: jou kind is my kind,” voeg hy by.

Vermiste Joshlin Smith.

Wanneer dit by die uitdagings van die saak kom, sê Lombard dit het as ’n leerstap gedien om hul volgende benadering te verbeter. “Dit het ontwikkelingsmodules vir die span geword.”

Hy bedank ook almal wat aan die soektog deelgeneem het en vir hul ondersteuning.

“As ’n kollektief kan ons goeie verandering verseker sodat almal daarby kan baat,” voeg hy by.

LEES OOK: Joshlin Smith-hofsaak: Skuldig op alle aanklagte

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article