Peter Alexander is ingelig oor sy vrou en kinders se dood en was erg geskok.

Sy wêreld soos hy dit geken het, sal nooit weer dieselfde wees nie.

‘n Hartverskeurde Peter Alexander (46) moes vandeesweek die nuus aanhoor dat sy vrou en twee kinders in ‘n motorongeluk gesterf het.

Peter, sy vrou, Heidi Alexander (48), hul kinders, Randy (24) en Rachèma Fillies (31), sowel as drie kleinkinders tussen 5 en 11 jaar oud – almal van St. Helenabaai – was in die vroeë oggendure van Vrydag 8 Augustus onderweg na ‘n begrafnis in Mosselbaai. Hul dubbelkajuitbakkie het naby Wolseley reg van voor teen ‘n vragmotor gebots.

Die polisie ondersoek nog die oorsaak van die ongeluk. Heidi, Randy en Rachèma is op slag dood.

Ná die ongeluk is Peter en die drie beseerde kleinkinders, wat vermoedelik agter in die bakkie was, hospitaal toe geneem.

Volgens Thyrone Williams, ‘n woordvoerder vir die familie, was die nuus ‘n groot skok vir die hele St. Helenabaai-gemeenskap.

Peter kon nie verstaan hoekom almal behalwe sy vrou en kinders hom in die hospitaal kom besoek nie.

Thyrone meen dit het later duidelik geword dat hulle nie langer kon uitstel om die nuus van sy familie se afsterwe aan hom oor te dra nie.

“Sy familie is van hom af weggeruk; dit het hom gebreek. Hy blameer homself vir wat gebeur het, maar ons het hom verseker dat dit nie sy skuld was nie, en dat hy op sy herstel en gesondheid moet fokus. Dit was regtig ‘n hartseer prentjie om te aanskou,” vertel Thyrone.

Die hartseer het egter nie daar opgehou nie. Peter is Maandag (11 Augustus) uit die hospitaal ontslaan en moes van daar af die moed bymekaarskraap om sy familie se liggame te gaan uitken. “Dit is ‘n proses wat vir niemand ooit maklik is nie. Peter was verpletter; hy was stukkend.

“Wat ek wel kan sê, is dat hy berusting begin vind het nadat hy sy vrou en kinders gesien het.”

Thyrone meen dat Heidi, Randy en Rachèma diep in die harte van baie mense geklim het. Dit is duidelik dat Peter sy vrou gaan mis en hy bevraagteken hoe hy sonder haar sal aangaan. Soos die familie vertel, was sy ‘n steunpilaar vir haar gesin – iemand wat altyd vir haar familie gebid en hulle gekoester het.

Edmund Williams, die voorsitter van die St. Helenabaai-rugbyklub waar Randy gespeel het, sê hy en die span het die onverwagte tyding baie moeilik aanvaar.

“Dit was ‘n swaar slag vir ons. Randy was ‘n spontane, goedgemanierde en energieke jongman. Hy was ‘n voorbeeld vir baie jongmense – veral vir die kleiner kinders in die gemeenskap. Hy was ‘n held onder hulle,” het Edmund bygevoeg.

Thyrone meen ‘n lang pad lê nog voor en ‘n mens kan dalk vra hoe hanteer jy die verlies en hoe beweeg jy aan? Hy glo dit is net die gebede wat die familie deur hierdie moeilike tyd sal kan dra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article