Susana de Villiers (70) het skuldig gepleit op moord van haar drie agterkleinkinders. Foto: Argief

WELLINGTON – Susana de Villiers (70), die Wellingtonse oumagrootjie wat in 2021 met haar drie agterkleinkinders by die Bainskloofpas afgery het, het vandag (4 November) in die streekshof in Worcester verskyn waar sy die getuiebank ingeneem het.

Sy het uitgebrei oor haar moeilike grootwordjare asook dié van haar agterkleinkinders.

De Villiers het in Maart vanjaar skuldig gepleit op die moord op haar drie agterkleinkinders, Caleb (8), Gradwille (5), en Joshua (18 maande) Booysen.

De Villiers het tereg gestaan op drie aanklagte van moord, of anders drie aanklagte van strafbare manslag asook van roekelose en nalatige bestuur.

Haar regsverteenwoordiger, advokaat Sakkie Maartens – aangestel deur die prokureursfirma Sarien Engelbrecht Prokureurs in Wellington – het aangevoer dat De Villiers se getuie ’n verklaring sal bied oor die redes waarom sy die beweerde moorde gepleeg het, en ’n prentjie sal skets van haar verminderde vermoë tydens die voorval.

Volgens Maartens is die volgende getuie wat die verdediging sal roep Charl Prinsloo, Paarl-hospitaal se hoofpsigiater.

LEES OOK: Bainskloof-ongeluk: Oumagrootjie pleit skuldig vir moord

Die staat het tydens ‘n vorige hofverskyning aangedui dat hul geen getuies gaan roep nie, en het by vandag se hofverskynings dokumente ingedien om hul argument te staaf.

De Villiers se getuienis het op ‘n hartseer noot begin toe die hof meegedeel is hoe sy en haar gesin weens die aard van haar pa se werk vanaf ‘n jong ouerdom baie rondgetrek het en sy in nege skole was.

Volgens haar het haar een suster Down se sindroom gehad en het haar ma ‘n stilgeboorte gehad toe sy jonk was.

Sy het “geglo dit was haar skuld dat haar bababoetie dood is”.

Sy het verder vertel dat haar ouers streng was.

De Villiers het toe meegedeel dat sy as kind meer as een keer gemolesteer is, maar dat sy na die eerste keer wat dit met haar gebeur het, besef het sy kan nie op haar ouers se ondersteuning staatmaak nie, omdat hulle haar nie geglo het nie. Daarna het sy hulle glo nooit vertel toe dit weer gebeur het nie.

Haar suster, met Down se sindroom, is glo ook verkrag.

In haar kinderjare het sy ook drie keer in dieselfde jaar haarself om die lewe probeer bring, maar het haar ouers nooit darvan vertel nie.

Susana de Villiers se drie agterkleinkinders. Caleb (agter; 8), Gradwell (links; 5) en Joshua (2) Booysen. Foto: Argief

LEES OOK: Bainskloof-tragedie: Oumagrootjie se verhoor begin in November

Sy is in 1974 vir die eerste keer getroud waarna haar drie kinders gebore is, maar hierdie huwelik beskryf sy ook as ontstuimig omdat haar oorlede man glo drank misbruik het, asook ‘n buite-egtelike verhouding gehad het. Hulle was vir 12 jaar getroud voordat hy in 1986 oorlede is. Sy voer aan sy het ter wille van haar kinders gekies om nie te skei nie.

Sy het toe haar huidige man, Ivan, in die bank ontmoet waar sy gewerk het. Nadat hulle getrou het, het sy baie geheg geraak aan Ivan se dogter, Adrie-Marie.

Sy voer aan dat die onnatuurlike sterfte van Ivan se dogter in 2020, wat sy “grootgemaak het soos haar eie”, ’n emosionele letsel agtergelaat het.

Ivan se dogter is dood weens brandwonde wat veroorsaak is deur metanol-gel wat vlamgevat het toe die familie potjiekos gemaak het, het Paarl Post destyds berig.

De Villiers het toe haar getuienis verskuif na haar kinders en kleinkinders. Volgens haar was die ouers van De Villiers se oorlede agterkleinkinders albei dwelmmisbruikers en dikwels besope, wat haar agterkleinkinders in ontstuimige omstandighede laat grootword het.

Sy het vertel dat sy en Ivan gereeld vir hulle kos en ander items na hul ouerhuis gebring het. Die agterkleinkinders het glo ook gereeld weggeloop, na haar en Ivan se huis. Na ‘n tyd verby gegaan het, is die drie agterkleinkinders in een van De Villiers se kinders, wat by haar en haar man op hul erf gewoon het, se sorg oorgeplaas, maar sy en haar man moes gereeld inspring om na die kinders te kyk.

De Villiers voer aan sy het toe angsbevange geraak en gehuil omdat die kinders “op en af by trappe waar daar nie reëlings was nie” gehardloop het en sy hulle nie kon beheer nie. Sy het getuig “dat sy nie meer kon nie” en haar “gevoelens van haar jonger dae het opgekom dat niemand daar was om haar te help nie”.

Hierna is Caleb, Gradwille en Joshua oorgeplaas na ander pleegouers wat in ‘n twee-vertrek struktuur in Wellington bly. Dit was ‘n paar maande voor die beweerde moorde plaasgevind het.

Die staat voer aan dat De Villiers op 20 November 2021 sowat 80 m by die berg van Bainskloofpas afgery het.

Haar agterkleinkinders is dood terwyl sy die ongeluk oorleef het. Die drie kinders het die dag by De Villiers, haar man, Ivan, ‘n prokureur in Wellington, en hul oupa, Carl Smit, gekuier.

De Villiers is later die middag met die kinders in haar motor weg, waarna sy deur die versperrings by Bainskloofpas, wat opgerig is weens die destydse padwerke, gery het.

Op die kruin van die pas het die motor waarin sy en die drie kinders gery het teen die berg afgestort.

Die beskuldigde se agterkleinkinders was op daardie stadium reeds vir ‘n paar maande in die sorg van familie van hul ma in Wellington weens die dwelmmisbruik van die oorledenes se ouers.

Die verhoor hervat weer môre (5 November).

You need to be Logged In to leave a comment.