Worcester Villagers het die afgelope Saterdag (9 Augustus) op sy tuisveld, Bolandpark, nog ‘n tree nader aan Top 12-deelname gegee deur Montagu-klub met 27-19 te klop nadat hulle rustyd reeds 22-5 voor was.
Met hierdie oorwinning het hulle ook Montagu-klub se hoop op deelname die doodskoot toegedien.
Die wedstryd, wat groot belangstelling gaande gemaak het en ten spyte van uiters gure weerstoestande deur net ‘n paar duisend toeskouers bygewoon is, het heelwat opwinding opgelewer met veral Hou by die Blou (Montagu-klub) wat tot die bitter einde alles in die stryd gewerp het in die hoop om as wenners uit te stap.
Villa, wat die eerste helfte saam met die wind gespeel het, het sommer in die eerste minuut bloed geruik toe sy nuweling-slot Mogammad Diedericks ná volgehoue druk oorgebars het vir ‘n onvervyfde drie. Die telling het na 8-0 gestyg toe die skrumskakel, Gurshwin Joubert, met ‘n netjiese strafskop slaag.
Villa, met veral sy beweeglike pak in volle beheer, het hierna goed 15 fases afgedwing en dit was nie snaaks toe die einste Joubert verspot maklik oor is vir ‘n drie wat die losskakel, Elton Mfundisi, verdoel het om die tuisspan met 15-0 te laat voorloop nie.
Villa het nog ‘n sewepunter gekry toe nog ‘n nuwe aanwins, die haker, Mogammad Adams, ná volgehoue druk oor die doellyn gebars en Mfundisi weer verdoel het, om die voorsprong na 22-0 te rek.
Montagu-klub het egter kort voor rustyd punte gekry toe sy heelagter, Aqeel Adendorff, in die hoekie oor is vir ‘n drie, wat die skrumskakel, Ryan George, ongelukkig nie kon verdoel nie.
Kort ná rustyd het Villa ongelukkig sy linkervleuel, Wayne Plaatjies, met ‘n rooikaart ná ongeoorloofde spel verloor en Montagu het sterk teruggekom toe sy buitesenter, Cleve Malgas, gedruk het.
George het verdoel om die agterstand na 12-22 te laat krimp. Villa het egter hope karakter getoon deurdat hy sy bonuspunt-drie kry toe sy regtervleuel, Tyler May, in die hoekie oor is. Die plaasvervanger-losskakel Gurshwin Africa se doelskop was egter net-net regs verby. Klub gee egter nooit bes nie en word beloon met ‘n sewepunter toe die losskakel, Charlton Scholtz, kort voor die einde oorgeduik en George weer verdoel het om die eindtelling op 27-19 te staan te bring.
• In die hoofvoorwedstryd het Villa sy naasbestes, Montagu-klub B, 19-0 gekarnuffel terwyl Villa se C-span die dag ingelui het met ‘n 12-3 sege oor Montagu-klub. Saterdag (16 Augustus) speel Villa teen Blue Birds van Bonnievale. – Alver Uys


