Villa het vriend en vyand Saterdag (26 Oktober) in ’n spanningsvolle wedstryd in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie verras toe hy Vredenburg op tuisbodem ten aanskoue van sy tuisskare geklop het. Die telling 31-30 (31 vir Villagers en 30 vir Vredenburg) is egter nie ’n korrekte weergawe van die drama, aksie, intimidasie, ongeoorloofde spel, twyfelagtige beslissings en rassistiese opmerkings wat Villagers-spelers moes trotseer om die eerste keer in die klub se bestaan ’n oorwinning in Vredenburg te behaal nie.
Die gespanne, senutergende, stresvolle wedstryd word as dié riller- wedstryd van die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie beskou en Vredenburg het Worcester Villagers die eerste 15 minute meedoënloos en aggressief met reëlmaat en genadeloos aangeval en was reeds voor met 18 teen 3 met die eerste lemoenbreuk.
Die inspirerende en kalm kaptein, Edward Haas, het sy troepe gemaan om gefokus te bly en nie beïnvloed te word deur die ongeoorloofde spel en rassistiese aanvalle op Johannes Geldenhuys nie.
Toe Villagers sy ritme vind, was daar egter geen keer nie en hy het Vredenburg stadig in ’n wurggreep beetgekry. Vredenburg is gedurig in die wedstryd gehou deur swak besluitneming en verkeerde opsies wat hul twee onderskep- drieë op ’n skinkbord pasella gegee het.
Die wedstryd het sy kwota omstredenheid gehad deurdat ’n strafdoel wat oor was, deur die assistentskeidsregter as mis aangedui is. Terwyl Johannes Greyling voor die skeidsregter op die grond in die gesig geslaan is, is hy ook uitgekryt vir ’n “wit n**i” omdat hy teen die rassistiese aanvalle beswaar aangeteken het.
In die doodsnikke van die wedstryd moes Villagers met krag en mening keer en sy verdediging was rotsvas. Die assistent-skeidsregter het ’n ewigheid geneem om sy vlag op te steek om aan te dui dat ’n speler van Vredenburg uitgeboender is.
Villagers Worcester het die prestasie van die skeidsregters per brief onder Boland se aandag gebring.
“fan park”
Intussen het honderde Villagers- entoesiaste Saterdag in Worcester byeengekom by die Fan Park by die Roodewal-woonstelle om hul geliefde span te ondersteun. Hierdie opkoms word beskou as van die grootste ooit.
volgende wedstryd
Saterdag om 15:00 besoek Caledon RFK (1ste geplaas) Villagers Worcester (2de geplaas) . Die wedstryd beloof om ’n genadelose een te wees.
Dit was die einste Caledon wat Villagers Worcester in 2019 op tuisbodem onder aanvoering van Nathan Zingitwa geklop het.
Saterdag dra die kookwater-Zingitwa egter ’n Villa-trui en sy voorspelling is dat die fanatiese toeskouers van Villa hulle sal deurdra.




