Henrico Jacobs, met ondersteuning van sy spanmaats Gurshwin Africa, Jadrian de Klerk en Cubit Michaels, wat hom na die doellyn vergesel.Foto: Henrico Jacobs


Die Villagers Worcester-rugbyspan het Saterdag (9 November) ’n indrukwekkende oorwinning oor Eagles behaal met die eindtelling 65-25, ten spyte van uitdagende omstandighede soos die lang reis van 280 km na Vanrhynsdorp, versengende hitte en onvoorspelbare suidwestewinde. Hierdie oorwinning versterk hul posisie in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie en hou hul halfeindronde-drome lewend.

Die Eagles het die wedstryd vinnig begin en binne die eerste tien minute twee drieë gedruk, wat Villagers Worcester dadelik op die agtervoet geplaas het.

Maar Villagers het hulle hergroepeer onder leiding van hul kaptein, Edward Haas, en ’n vasberade verdediging het Eagles onder druk geplaas.

Hul voorspelers het begin oorheers, en die besoekers het momentum opgebou.

Gurshwin Africa het as die spelmaker uitgeblink met indrukwekkende breekslae, terwyl Austin Hendricks met sy skitterende lopies die Eagles in hul eie gebied vasgedruk het.

Cubit Michaels het ’n geskiedkundige prestasie behaal deurdat hy in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie altesaam agt drieë gedruk het – wat aan hom die “Tekkie Town Play of the Day”-toekenning besorg het.

Puntemakers

Drieë: Cubit Michaels (2), Austin Hendricks (1), Mario Marinus (1), Henrico Jacobs (2), Juan Williams (2), Gurshwin Africa (1), Eushan vd Merwe (1).

Skoppe: Jarian de Klerk (ses stelskoppe), Austin Hendricks (een stelskop).

Spelers van die Wedstryd

Cubit Michaels is bekroon vir sy agt drieë.

Die kaptein, Edward Haas, het die “Rainbow Chickens Powerhouse”-toekenning ontvang.

Juan Williams is aangewys as die “Sanlam Confident”-speler van die wedstryd.

Steun uit die gemeenskap

Die Fan Park by Roodewal Primêre Skool het honderde ondersteuners gelok om saam na die wedstryd te kyk, wat die gemeenskap se trots op en lojaliteit aan die span bevestig.. Die volgende uitdaging vir Villagers is hul halfeindronde hierdie Saterdag (16 November) teen Safcol, die huidige kampioen, in die Boland-stadion in Wellington.

Hoewel Safcol as die gunsteling beskou word, gaan Villagers die veld met selfvertroue en ondersteuning van hul lojale ondersteuners betree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article