1992: ’n groot jaar vir onderwys op Worcester
Dinsdag, 17 Januarie 1992, was ’n geskiedkundige dag vir die onderwys op Worcester.
Die nuwe skool, Worcester Gimnasium, is amptelik deur die uitvoerende direkteur van onderwys, dr. S.W. Walters, geopen. Buite die skoolgebou het 825 blou skoolbaadjies saamgesmelt om trots die saal in te gaan. Almal het op aandag gestaan terwyl die eregaste en nuwe skoolhoof, mnr. Willie Theron, die saal binnegekom het.
In doodse stilte het die leerlinge na Dr. Walters se toespraak geluister toe hy sê dat daar deur samewerking gou trots en tradisie in die nuwe skool sal wees.
Dr. Walters het gesê: “Die amalgamasie en statusverandering het plaasgevind op aandrang van die publiek van Worcester en op versoek van die bestuursraad. Hierdie eensgesindheid van die gemeenskap en hul besondere insig in die onderwysbehoeftes van die dorp, was die vernaamste redes, glo ek, vir die sukses van die voorgangers van Worcester Gimnasium.”
Saamgebind
“Bind us together” is gesing, want Worcester Gimnasium is gebore uit Hoërskool Worcester en Hoërskool Worcester-Oos.
Amalgamasie is nie vir Worcester vreemd nie. So het Hoërskool Worcester in 1972 ontstaan na die samesmelting van die Hoër Jongenskool Worcester (HJS) en die Hoër Meisieskool Worcester (HMS).
Die westekant van die HJS Worcester-gebou word afgebreek om plek te maak vir die nuwe gebou (spesifiek die saal). Leerders gaan skool tussen HJS en HMS Worcester se gebou, vandag bekend as die Hugo Naudé-kunssentrum.
Die Hoërskool Worcester-Oos het op sy beurt ontwikkel uit ’n plaaslike tak van die destydse Kaapse Tegniese Kollege, wat in 1941 die Hoër Handelskool sou word. Die Hoërskool Worcester-Oos het in 1988 ontstaan uit die Hoër Handelskool.
Wye spektrum vakke
Die nuwe skool bied ’n wye verskeidenheid vakke.
Onder die 55 personeellede word die volle spektrum van wetenskap-, handels- en praktiese vakke aangebied.
Soos Mnr. Theron sê: “Met ons hand in God s’n, sal ons, as ’n span, die toekoms saam aanpak.”




