Worcester Noord- Primêre Skool het die nuwe skoolkwartaal en die aankoms van hul nuwe skoolhoof met ’n spesiale boomplantgeleentheid gevier.
Die nuwe hoof, Theo Kriel – wat al 25 jaar in die onderwys is – het Dinsdag (5 April) by sy nuwe kantoor ingestap. Hy sê hy sien daarna uit om die leerders en die skoolgemeenskap van Worcester-Noord met sy godgegewe talente te kan dien.
“Ek sal ook die breër gemeenskap van Worcester wil leer ken en hande vat met alle rolspelers om te verseker dat kinders die beste geleenthede kry om die toekoms as volronde, verantwoordelike jongmense en leiers tegemoet te gaan.”
Kriel en sy gesin – sy vrou, Isobel, en hul vyf kinders, Jan, Siméon, Sjané, Conrad en Lilibeth – wou almal baie graag na Worcester trek.
“My kinders dek amper die hele spektrum van ’n skoolloopbaan (Graad R tot Graad 10). Uiteraard sal dit ideaal wees dat ons hulle almal hier vestig.”
Voordat hy die rol as nuwe hoof van Worcester-Noord aanvaar het, was hy 22 jaar lank die skoolhoof by die Laerskool Durbanville.
Kriel het ook vir drie jaar in Springbok as onderwyser gewerk.
Op ’n vraag oor watter vakke hy onderrig het, sê Kriel: “As ’n laerskoolonderwyser het ek al die meeste van die vakke wat daar is deur die loop van 25 jaar aangebied.
“My liefde is egter by die wysbegeerte en ek het ’n spesiale plekkie vir geskiedenis en geografie.”
Dr. Steyn Smit, ’n lid van die skool se beheerliggaam, het Kriel in sy nuwe rol sterkte toegewens.
“Dit is ’n groot eer om hierdie spesiale oomblik saam met die kinders, die personeel en die beheerliggaam te kan vier.”
Kriel het ook gesê hy hoop die boomplanting sal die begin van ’n goeie verhouding tussen hom en die Worcester-Noord-gemeenskap wees.





