Die mesdood van ‘n Malawiër in die Maseru- informele nedersetting in Zwelethemba, Worcester, het die spanning onder plaaslike immigrante die hoogte in laat skiet.
Die voorval het volgens AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie vroeër vandeesmaand, op 8 Julie (net na 21:30), plaasgevind. Ahamudu Yunusu is deur polisiebeamptes wat op ‘n klagte reageer het, dood en met steekwonde aan sy bolyf voor ‘n sinkhuis gekry.
‘n Zimbabwiese immigrant, wat wettig in die land is maar anoniem wil bly, het aan Standard gesê hy is al herhaaldelik deur ‘n groep seuns in sy woonbuurt aangeval.
Mense het glo ook al by van die immigrante se huise ingebreek en talle het verkies om uit dié gebied pad te gee.
Volgens AO Jacobs hoor die polisie van hierdie voorvalle, maar die immigrante huiwer om dit aan te meld en die polisie kan dus nie daarop reageer nie.
Terug huis toe
Derduisende immigrante het die afgelope maand verkies om na hul tuislande terug te keer ná betogings deur die aksiegroep March and March en ander organisasies.
Van die immigrante het gesê hulle het hul besittings net so gelos om na hul lande van herkoms terug te keer en het nie tyd gehad om dit te verkoop nie.
Honderde immigrante, meestal van Malawië, het uit vrees vir geweld ingevolge vreemdelingehaat by die Callie de Wet-gemeenskapsaal in Robertson skuiling gesoek nadat hulle gedreig is. Meer as 300 het glo daar geskuil.
Talle mense is uit dié sentrum gerepatrieer totdat ‘n tydelike repatriasiesentrum op 1 Julie in Musina geopen is om die proses te bespoedig.
Kol. Norman Davids, die bevelvoerder van die Robertson-polisie, het gesê geen klagtes van geweld teen buitelanders is by hulle aangemeld nie.
Die Langeberg-munisipaliteit het buitelanders in kennis gestel die sentrum in Robertson is nou gesluit en alle busse wat immigrante vervoer, self al is dit privaat gehuur, sal Musina toe moet gaan.
‘n Immigrant wat terug Zimbabwe toe is om wettige status in Suid-Afrika te verkry, het aan Standard gesê hy het teruggekeer en om ‘n werkspermit aansoek gedoen.
“Ons het nie ‘n ander keuse nie, want daar is nie werk in Zimbabwe nie. Ek is al langer as tien jaar in Suid-Afrika en my kinders gaan hier skool. Ek wil hulle graag terugbring hiernatoe.”
Verskeie ander immigrante het aangedui hulle gaan hier bly en gaan nie van die repatriasieproses gebruik maak nie. Een van hul vrese is as hulle gedeporteer word, sal hulle vir vyf jaar nie terug Suid-Afrika toe mag kom nie.
Strenger Wetstoepassing
Wetstoepassing teenoor onwettige immigrante is ná die betogings oor die land heen strenger toegepas.
President Cyril Ramaphosa het op 7 Junie aangedui dat die regering ‘n vyfpuntplan gaan volg om die immigrantekwessie die hoof te bied.
Eerstens sal die departement van binnelandse sake, die grensbestuurgesag, die polisie en ander wetstoepassings- agentskappe pogings om onwettige immigrante te identifiseer en te deporteer, verskerp.
Die departement van arbeid sal ook in die huidige boekjaar 10 000 inspekteurs werf om te verseker werkgewers voldoen aan die vereistes, het die staatspresident gesê.

Swaar boetes kan uitgereik word indien werkgewers onwettige immigrante of werkers sonder werkspermitte aanstel.
Tweedens sal grensbeheer strenger toegepas word en moderne tegnologie sal ingespan word om te verseker dat wettige handel en reis steeds plaasvind.
Tegnologie word ingespan
Derdens beplan die regering om die immigrasiestelsel te versterk deur korrupsie aan te durf en topklas-tegnologie te gebruik. Die regering installeer tans ‘n “slim-bevolkingsregister” wat die biometriese data van elke mens in die land sal bevat.
Dit lê ook die grondslag vir ‘n digitale identiteitskaart. Die groen ID-boekies, wat makliker vir bedrieërs is om te vervals, sal uitgefasseer word.
Vierdens sal gapings in wetgewing en beleide aangespreek word om te verseker dat daar nie wetlike skuiwergate is wat uitgebuit kan word nie.
Ramaphosa het gesê die regering het die beleid vir nasionale migrasie gefinaliseer, wat maksimumkwotas vir die indiensneming van gedokumenteerde buitelanders voorstel.
Die vyfde stap is om saam met ander lande in die streek en die vasteland te werk om die groter uitdaging van migrasie aan te durf. “Suid-Afrika kan nie die uitdagings van migrasie alleen hanteer nie. Dit is ‘n verskynsel reg oor die vasteland en die wêreld. Die druk wat migrasie bring, kan nie deur wetgewing alleen opgelos word nie. Waar konflik is, moet vrede gemaak word, ekonomiese groei moet stagnasie vervang en waar armoede heers, moet geleenthede moet geskep word,” het Ramaphosa gesê.



