Sowat twee jaar nadat ‘n vrou van Riverview in Worcester haar een broer aan ‘n skietdood afgestaan het, gaan sy weer voor ‘n oop graf staan wanneer sy nog ‘n broer – dié keer een van ‘n tweeling – ná ‘n mesdood finaal moet groet.
Carmenita Stevens (42) van Riverview-woonstelle vertel sy en haar broer, c (30), se vermeende moordenaar het Saterdagaand (11 Julie) kort voor die voorval gestry omdat hy glo oproerig in haar huis was.
Sy sê nadat die huismense daarin geslaag het om die man uit die woonsteleenheid te boender, het hy Rumarc, wat ook sy vriend was, buite raakgeloop. Volgens Stevens was Rumarc in daardie stadium in sy tweelingbroer, Rumacyo, se geselskap.
Gaan haal ‘n mes
Stevens sê toe Rumarc sy vermeende aanvaller oor sy gedrag konfronteer, het hy (die aanvaller) glo na sy eie huis toe gegaan, met ‘n skerp voorwerp teruggekeer en Rumarc in sy broer se teenwoordigheid na bewering in die nek gesteek.
Volgens Stevens het haar broer se aanvaller ná die voorval glo afgesit na ‘n familielid in OVD. Sy sê Rumacyo het onmiddellik hul ma van die voorval gaan vertel.
Stevens sê ‘n verpleër, wat in die omgewing woon, het tevergeefs probeer om Rumarc se nek met ‘n doek te verbind in ‘n poging om die bloeding te stop. Volgens haar kon die bloed nie gestop word nie omdat ‘n slagaar raakgesteek is. Sy sê haar broer het op die toneel, op die hoek van die Q-woonstelblok, aan sy steekwond beswyk.
Rumarc was ongetroud en het geen kinders gehad nie.
Sy begrafnisdiens is Saterdagoggend (25 Julie) om tienuur by woonstelblok-R (23), Riverview, en om 11:00 in die skoolsaal van Victoriapark Primêr. AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, sê ‘n ver-dagte het homself na die voorval aan die polisie oorgegee.
• Rumarc se derde oudste broer, Girshwin Damons (37), is sowat twee jaar gelede voor sy ouerhuis in Riverview doodgeskiet.





