Ronél van Jaarsveld
Die winter kan maar kom – die leerders van die Orchards Primêre Skool in De Doorns het warm skoolklere aan.
Danksy ‘n inisiatief van die Korrektiewe Dienste in Worcester, het verskeie borge skenkings gegee sodat leerders in die skool ‘n stel skoolklere vir die koue wintermaande het. Talle huishoudings in die gemeenskap van De Doorns maak staat op seisoenale werk en kry finansieel baie swaar.
Tydens die oorhandiging die afgelope Donderdag (17 April) is splinternuwe skoolskoene, skoolhemde, mussies, truie, higiënepakkies en lekkergoed uitgedeel.
Die higiënepakkies het ‘n waslap, seep, tandeborsel en reukweerder bevat. Pakke drukkerspapier is terselfdertyd aan die skool geskenk.
Die sprekers het die kinders kort voor die Paasnaweek herinner waar-oor die Pase eintlik gaan – liefde en opoffering. Die skenking van skoolklere is ook ‘n daad van liefde vir hul gemeenskap.
Worcester se eie Mev. Suid-Afrika-finalis, Joslyn du Toit, het die geleentheid bygewoon, asook verteenwoordigers van die borge Sanlam, Nedbank, Old Mutual, Karsten-boerdery, Hexkoel en Vallei-rekenmeesters.
Benewens die skenkings het ‘n plaaslike veiligheidsfirma ingespring om die stukkende motorhek te herstel en papiere om die skoolterrein is opgetel.
“Wanneer kinders netjies in skoolklere aangetrek is, lyk hulle net soos hul maatjies en het selfvertroue by die skool,” sê Sebastian Abrahams, die programleier van Korrektiewe Dienste. “Die skenkers wil graag terugploeg in hul gemeenskap.”



