Dit is die soort koors wat eie is aan vlakkiekrieket-liefhebbers; tradisioneel wil hierdie ondersteuners op ‘n Sondagmiddag vermaak word.
Dit is presies wat op 18 Januarie in die “Pa-Roel”-toernooi gebeur het, waarvoor Pro-Eagles-krieketklub die gasheer gespeel het. Hierdie vlakkiekrieketklub is deur Rudolph Appolis gestig – beter bekend as Pa-Roel – en ter nagedagtenis aan hom bied Pro-Eagles dit nou jaarliks in die nuwe jaar aan wanneer sy geboortedag gevier word. Hierdie jaar was hulle bevoorreg om agt spanne in die toernooi, wat oor twee naweke gehou is, in aksie te sien.
Ongelukkig kon slegs twee van hierdie spanne na die eind-ronde deurdring: Clovers-krieketklub en Taranankie.
Die kaptein van Taranankie het die loot in ‘n volgepakte Eaglepark gewen en besluit het om eerste veld te vat met die jong Parker-Lee Job en ervare Mario Marinus wat die beurt vir Clovers geopen het. Taranankie was eerste weg uit die blokke toe hulle van Job asook Romano Adams ontslae geraak het.
Dit het egter nie die ervaring van Clovers in die niet gelaat nie en Warren Davids het ‘n vinnige 25 lopies gemoker om die tempo van Taranankie af te bring. Mario Marinus het ‘n bestendige 66 lopies bygedra, wat Clovers uiteindelik op 123 lopies in hul toegelate 10 boulbeurte laat eindig het – ondanks die briljante spel van Anwill de Bruyn wat uitstekend gevaar het vir Taranankie met sy 2-13 in twee boulbeurte.
Nes Clovers was Taranankie gou op die agtervoet toe Therenzo Jacobs met die tweede aflewering van Taranankie se openingskolwer ontslae geraak het.
Dit het die indrukwekkende Enrico Flando na die kolfkampie gebring, maar sy soektog na lopies is deur die boulaanval van Clovers getem – veral met Therenzo Jacobs en Fyrin Hendricks wat hul hande tydens die toernooi hoog opgesteek het. Ten einde was die 123 lopies te veel vir die span van Adam Flando, wat Clovers met ‘n oorwinning van 28 lopies gelaat het.
Die kaptein van Clovers, Fyrin Hendricks, is aangewys as die bouler van die toernooi, terwyl Mario Marinus as kolwer van die toernooi weggestap het.
“Ek dink die saad is al in die eerste naweek van die toernooi geplant. Vandag moes ons net die vrugte daarvan kom pluk – die vrugte wat deur God gegee is, en dis iets wat mense nie weet nie,” sê Ethan Jass, een van Clovers se spelers. – Luciano du Toit




