Die gewilde Big Bash-vlakkiekriekettoernooi van die Hartwig Lions-krieketklub woed steeds in Worcester en kom moontlik op 30 April tot ’n aksiebelaaide einde.

Verskeie klubs weier om bes te gee met sowat drie rondomtaliewedstryde oor. Gedissiplineerde krieket sal in die oorblywende wedstryde deur verskeie klubs gespeel moet word om in die pylvlak te bly.

In Groep A het die Very Dangerous-span die pas aangegee, maar hy is ook in ’n verbete stryd met View Pros en Quickies gewikkel om te bepaal wie deurgaan.

Groep B word deur Orchards oorheers, maar die Pumas en Kings baklei ook kliphard vir daardie tweede plek.

Groep C is tans die “groep van die dood” met vier spanne wat in ’n hewige stryd vir die eerste twee plekke gewikkel is.

Die Young Stars het die pas aangegee, maar slegs twee wedstryde is oor.

Clovers is immers ook aan die wag vir ’n eerste plek, dus kan die Young Stars nie te gemaklik wees nie, omdat Zazon, Clovers, en Hartwig Lions óók in sy nek blaas.

In Groep D sal die Pro Eagles en Clovers al twee hul oorblywende wedstryde moet verloor vir die Tarranankie, ook van Worcester, om te kwalifiseer, maar dit lyk heel onwaarskynlik.

Die Big Bash-toernooi gaan hierdie Sondag (2 April) in Worcester voort en ondersteuners kan die onderskeie spanne aanmoedig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article