Multisure Villagers se agsteman, Xavier Maakie, probeer om met een van sy kraglopies verby sy opponente te kom. Foto: Coleen Jansen.

Vir die tweede agtereenvolgende week moes Multisure Villagers tot die bittereinde gefokus bly voordat hy met 24-20 as oorwinnaar uit die stryd kon tree.

Hierdie keer was dit Rangers Robertson wat op die Van Zylstraat-stadion in Robertson alles in die stryd gewerp het om die span van Worcester met die kous oor die kop huistoe te probeer stuur.

Hoe taai die stryd was, blyk uit die feit dat die tuisspan nog tot diep in die tweede helfte met 20-17 voor was voordat die besoekers groot karakter aan die dag gelê het om uiteindelik met 24-20 te kon seëvier.

Die wedstryd het op ‘n positiewe noot vir die tuisspan afgeskop toe sy regter- vleuel, Sean-Douglas Cedras, vroeg in die eerste helfte met ‘n strafskop slaag.

Villa, soos hy onder sy aanhangers bekendstaan, se heelagter, Jaydian Buys, slaag ook met ‘n strafskop om sake gelyk te maak. Kort hierna kry Buys die geleentheid om sy span se voorsprong te rek, maar sy skop van goed 55 m tref ongelukkig die regoppaal.

Kort hierna kry Villa wel sy neus voor toe die kaptein en binnesenter, Henrico Jacobs, na ‘n vlymskerp wegbreek onder die pale oorgaan en Buys verdoel om Villa teen rustyd met 10-3 te laat voorloop.

Na rustyd en met Villa wat nou die pap dik aanmaak, is dit egter Rangers wat na omgekeerde balbesit punte kry toe die skrumskakel, Jaden Hess, oorgaan en Cedras verdoel om sake met 10 elk gelykop te maak. Die tuisspan neem die voortou toe die agsteman, Siva Padiachy, oorgaan en Cedras verdoel om met 17-10 voor te loop.

Kort hierna word sake weer gelyk toe Jacobs vir sy tweede drie oorgaan en Buys verdoel. ‘n Cedras-strafskop laat Rangers egter weer met 20-17 voorloop.

Volgehoue druk

Dit is hier waar Villa ware karakter toon deur die tuisspan onder geweldige en volgehoue druk te plaas. Alhoewel die opponente se verdediging aanvanklik hou, bars die damwal uiteindelik toe die buitesenter, Wayne Plaatjies, met ‘n sierlike duik agter die doellyn gaan kuier en met Buys se geslaagde doelskop Villa met 24-20 laat seëvier.

In die hoofvoorwedstryd, wat die skeidsregter om onverklaarbare redes met meer as 20 min speeltyd oor afblaas, wen Rangers met 21-14, terwyl Rangers ook met 8-5 in die eerste wedstryd van die dag, die C-span-wedstryd, bo was.

Komende Saterdag (21 Maart) speel Multisure Villagers tuis op Bolandpark teen ‘n omgekrapte Swellendam, terwyl Rangers in ‘n derbystryd teen sy bure Robertson te staan gaan kom. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article