Die o.17-atlete het vir ‘n strawwe stryd gesorg in die 800m finaal. Foto: Duncan Bell

Alle paaie het op Vrydag 30 Januarie na Bolandparkstadion gelei toe vier van Worcester se hoërskole ná meer as dertig jaar weer ‘n tradisie wat destyds reuseskares na die baan gelok het, laat herleef het.

Reeds van voor 08:00 was dit bedrywig in en om Esselenpark Sekondêre Skool, Worcester Sekondêre Skool, die Hoërskool Breërivier en Somerset High (wat ook vanjaar ingesluit is) toe leerders by hul onderskeie skole aangetree het en onder begeleiding van die plaaslike verkeerspolisie en Worcester-polisie na die stadion opgeruk het.

Die byeenkoms, wat deur Esselenpark Sekondêre Skool aangebied is, was goed georganiseer met leerders, opvoeders en ouers wat almal saamgewerk het om die dag besonders te maak.

Die inisiatief vir die byeenkoms het ontstaan ná ‘n informele gesprek op ‘n rugbyvergadering. Die onderwyser Megan Wehr van Esselenpark het saam met Mubeen Laatoe (WSS), Salahuddin Claasen (HB) en Garren Verhoog (SH) die bal aan die rol gesit om die historiese sportdag ‘n werklikheid te maak.

Die dag is gekenmerk deur puik sportmanskap, sterk mededinging en ‘n uitstekende gees tussen die skole.

Dit was veral die Hoërskool Breërivier en Worcester Sekondêr se langafstandatlete wat hul reputasie as meesters in dié afdeling gestand gedoen het terwyl Esselenpark weer getoon het dat hulle ‘n instansie is waar spoedvrate gekweek word. Somerset High het lustig saamgewerk en getoon dat hy vorentoe self ‘n paar verrassings kan oplewer.

Die puntetelling aan die einde van die dag was as volg: Esselenpark met 164, Worcester Sekondêre Skool met 140, Hoërskool Breërivier met 126 punte en die nuweling, Somerset High School, met 86 punte.

Die organiseerders het bevestig dat die byeenkoms sonder enige voorvalle verloop het, wat die samewerking en goeie beplanning beklemtoon. Spesiale dank is uitgespreek aan die polisie, die verkeersdepartement en die Breedevallei-munisipaliteit vir hul ondersteuning. Verdere erkenning is gegee aan Elton Shortles, Essop Ismail, Anver Adendorff, Colis Human en Wehr, die hooforganiseerder, vir hul waardevolle bydrae tot die sukses van die dag. Dank is ook betuig aan elke onderwyser van die betrokke skole wat as beamptes in die warm son opgetree het, asook aan die leer-

ders vir hul goeie gedrag, entoesiasme en aktiewe deelname.

Volgende jaar sal Worcester Sekondêre Skool gasheer speel, en daar is reeds groot verwagtinge dat hierdie herleefde vierhoekige byeenkoms sal voortgaan om skole, leerders en die breër gemeenskap nader aan mekaar te bring. – Alver Uys en Luciano du Toit

Leerders, oud-leerders en ouers het in hul massas by die stadion opgedaag om die atlete op die veld en baan in hul onderskeie items te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article