In ‘n ontstellende voorval van erge diereverwaarlosing is tientalle perde en beeste binne ‘n paar weke op ‘n plaas in die Breërivier-omgewing dood.
Nadat die nasionale dierebeskermingsvereniging (DBV) ‘n klag van die publiek ontvang het oor die haglike toestande waarin die diere hul bevind, het hulle die organisasie Sandy’s Animal Rescue in Worcester opdrag gegee om namens hul op te tree.
Sandy’s Animal Rescue het die plaas besoek waar hulle die diere in verhongerde en verswakte toestand gevind het. Van die beeste was blykbaar so swak dat hulle geval het en nie kon opstaan nie. Tientalle diere het volgens die klaer reeds gevrek.
Omdat die diere nie korrek gemerk is soos wat wetgewing vereis nie, is die polisie se veediefstal-eenheid ook aanvanklik by die ondersoek betrek.
Thembakazi Mpendukana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat ‘n 48-jarige man verlede Woensdag (6 Mei) op klagte wat verband hou met die verwaarlosing van diere in hegtenis geneem is. Die man het reeds in die landdroshof in Worcester verskyn. Die nasionale vervolgingsgesag het bevestig dat die saak tot 3 Augustus uitgestel is.
Standard verneem dat die beskuldigde glo ‘n werknemer is en dat die plaas aan ‘n buitelander behoort.

In foto’s van die perde, glo afgetrede resiesperde, kan gesien word hoe hulle aan die teerpale van hul kamp gekou het.
Meer as 50 beeste is van die plaas verwyder en tans in die sorg van Sandy’s Animal Rescue. Die perde het op die plaas agtergebly omdat daar by Sandy’s nie geriewe is om hulle te versorg nie.
Juenieta Everson, die bestuurder van Sandy’s, het gesê dat die organisasie gereeld besoek aflê om te verseker dat die perde versorg word.
LEES OOK: Sake van dieremishandeling ondersoek ná skokkende gevalle in Noord-Kaap






You must be logged in to post a comment.