Jong ma van Worcester wat eers vir slange gril nou slangredder

Slangredder
Amoré Everson is die Breedevallei se nuwe slangredder. Foto: Enrico Claassen

Jong ma van Worcester wat eers vir slange gril nou slangredder


WORCESTER: Sy het haar vroeër dood gegril vir ‘n slang en wou nie eens naby een gaan nie. Min het sy geweet dat sy in ­later jare as die Breedevallei se nuwe ­slangredder bekend sal staan.

Vandag staan Amoré Everson (26) van Worcester glad nie terug vir ‘n slang nie. Sy werk ook tans vir Sandy’s Animal Rescue in Worcester.

Hierdie dapper ma van ‘n 11 maande oue baba vertel aan Standard Breederivier Gazette haar onverwagse belangstelling in slange het gekom toe sy gereeld saam met die Breedevallei se bekende slangredder, wyle André du Preez van Silverfox Snake Rescues, onder meer slang-bewusmakingsessies op plase en by skole aangebied het.

LEES OOK: Geliefde slangvanger van Breedevallei sterf ná tyd in hospitaal

Volgens Everson was sy al by sowat vier geleenthede saam met André toe hy ontbied is om slange van onder meer woonpersele te verwyder.

“Silverfox het my geleer hoe om kobras te hanteer. Hy was baie tevrede met my werk. Toe ek ‘slaag’, toe gee hy my ‘n spesiale T-hemp wat ek ongelukkig in die trek verloor het.

“André het my ongelooflik baie geleer, soos dat as ek respek het vir slange en nie cocky is nie, sal ek oukei wees.”

Everson sê in ‘n stadium moes sy weens werksverpligtinge haar betrokkenheid by slange staak.

“Toe [André] oorlede is, het mense begin navraag doen oor ‘n slangredder. Ek het dit egter vir ‘n lang tyd tersyde gestel, ook omdat ek ‘n baba het wat amper 11 maande oud is.”

Volgens Everson het sy op 9 September uit die bloute ‘n oproep gekry oor ‘n slang op ‘n woonperseel in Panorama in Worcester. Sy vertel dat Eduanne Niemand, gesoute slangredder van Boland Snake Removals in Wellington, in daardie stadium nie beskikbaar was nie.

“Ek gaan toe uit met my slangstok en ‘n houer wat Silverfox daardie tyd vir my gegee het. Ek het die slang gevang en binne ‘n 20km-radius weg van die woning vrygelaat omdat dit deel is van die reëls van CapeNature.“

Volgens Everson het sy kort hierna nog twee pofadders – een van ‘n woonperseel in Worcester en een van die perseel van ‘n sake-onderneming buite Worcester – verwyder.

“Ek het toe vir my ma-hulle gesê die slang-gogga het my weer gebyt en dat ek dit [slange red] weer wil doen. Hulle sê toe vir my hulle sal nie in my pad staan nie.”

“Wanneer ek op pad is na ‘n klagte is ek nogals taamlik op my senuwees. Ek praat dan ongelooflik baie met myself.

“Dis maar my manier van terapie. Sodra ek daardie slang gered het, word ek rustig.”

Volgens Everson is sy dankbaar Niemand het haar nou onder sy vlerk geneem omdat sy nog baie het om te leer.

Sy sê sy het nog nie al die toerusting wat sy benodig om slange te red nie, maar sal dit mettertyd bekom.

Volgens Everson is sy tans besig om haarself by CapeNature te registreer. Sy sê al wat sy dan benodig is ‘n brief van Bree-

devallei-munisipaliteit waarin uiteengesit word dat hulle weet sy red slange in hul gebied.”

Diegene wat slange by onder meer hul woning of sake-onderneming gewaar, kan Everson by 068 226 5732 bel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article