’n “Verbod” is geplaas op die oprigting van nog informele strukture in die reeds oorbevolkte Bloedrivier- en Askamp- informele nedersettings agter die Roodewal-woonstelle in Worcester.

Die raadslid Colin Wilskut sê dié moratorium’, wat gedryf is deur die bestuur van wyk 10 en in samewerking met die behuisingskantoor van Breedevallei-munisipaliteit (BVM), geld ook vir die verdere oprigting van informele strukture in die res van die wyk, wat Roodewal-woonstelle en Hexpark insluit.

Hy sê die “verbod” vorm deel van ’n veiligheidsplan vir wyk 10, wat verlede jaar deur die wyksbestuur in samewerking met die polisie en die BVM opgestel is. Die doel is om reg en orde in die wyk te bewerkstellig.

Intussen sê Chad Malgas, ’n munisipale woordvoerder, gesprekke tussen die wyksbestuur van wyk 10 en die BVM se behuisingskantoor om die oprig van verdere strukture in onder meer die Bloedrivier- en Askamp- informele nedersettings agter Roodewal-woonstelle in Worcester te voorkom, is nog aan die gang.

Volgens Malgas is ’n formele moratorium nie deur die BVM opgelê nie. Hy sê die BVM ondersteun egter die standpunt omdat die huidige informele nedersetting nie geskik vir behuisingsdoeleindes is nie.

Volgens hom is dit onder meer geleë op kritieke munisipale infrastruktuur, wat die diens daarvan ten tyde van nood-herstel- en/of onderhoudswerk bemoeilik, en dit is ook ontoeganklik vir reddingspersoneel in noodgevalle.

Hy sê dit is voorts onwettig om enige struktuur op munisipale eiendom of grond sonder die nodige goedkeuring op te rig.

Wilskut sê op sy beurt die Roodewal-woonstelle en die rivier, wat knap langs die betrokke informele nedersettings verbyvloei, maak die verdere uitbreiding van die nedersettings onmoontlik.

Hy sê 250 informele strukture is reeds in die betrokke informele nedersettings opgerig.

Volgens Wilskut word ’n voortdurende instroming van mense na die betrokke informele nedersettings ervaar – nie net mense wat huise soek nie, maar ook bendes wat onwettige strukture daar kom oprig.

Hy sê voorts ’n groot hoeveelheid mense is reeds huis-eienaars, maar dan informele strukture in Bloedrivier en Askamp oprig en dit verhuur.

“Dit is nie hul grond nie – dis munisipale grond. Hulle kan dus nie net ’n struktuur oprig en dit dan verhuur nie.”

– Vervolg op bladsy 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article