Bouwerk aan huise vir inwoners van die Bloedrivier-, Askamp- en Sewendelaan- informele nedersettings agter die Roodewal-woonstelle in Worcester begin heel moontlik binne die volgende twee jaar.
Die inwoners sal dan deel vorm van die Transhex-behuisingsprojek langs die Robertson-pad.
So sê ’n optimistiese Margaret Swartz, raadslid vir Wyk 10, aan Standard & Breederivier Gazette.
Tans is daar tussen 350 en 400 gesinne in dié informele nedersettings. Sy sê 99,9% van dié inwoners daar is gewone gesinne.
Swartz sê redes vir die skuif na Transhex is onder meer omdat die informele strukture bo-oor rioolpype en hoëdruk-waterpype gebou is, wat munisipale dienslewering en toegang van nooddiens-personeel tot die informele nedersettings bemoeilik.
Volgens haar het die informele nedersettings nou al uitgebrei tot onder die hoëspanning- elektriese kabels, wat ’n groot veiligheidsrisiko inhou.
“Dit is onwettig om onder dié kabels te woon, want as daardie kabels breek en val, kan dit ’n nagmerrie wees. Nie net kan groot skade aan informele strukture aangerig word nie, maar dit kan ook lewensverlies veroorsaak.
“Dan is daar die Hexrivier waarlangs die nedersettings opgerig is. Sou daar ’n vloed kom, sit ons met ’n geval soos in Rawsonville waar mense se hokke verspoel het. Hier is ook ’n groot probleem langs die R60, want hier kom water uit die nywerheidsgebied en dan verspoel die informele nedersettings. Ons moes al mense in die middel van die nag uit hul strukture verwyder, want dit was onder water. Dit is net nie die regte plek om te woon nie.”
Volgens haar is daar ook net vier waterpunte in die drie informele nedersettings en is die toilette ook baie min.
Swartz sê die proses om die inwoners te skuif, is reeds begin met ’n opname wat in die betrokke informele nedersettings gedoen is.
Die opname bevat onder meer persoonlike inligting oor die inwoners en wie almal reeds op ’n behuisingswaglys is.
Volgens Swartz is al die inligting in ’n databank vasgelê. Die databank, sê sy, word met die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gedeel.
“Ons het reeds ’n Transhex-ontwikkeling met die nodige infrastruktuur soos paaie, water, rioolpype en elektrisiteit. Die erwe is reeds gediens. Altesame 8 000 erwe is reeds by Transhex uitgesny en wag vir ontwikkeling.”
Volgens Swartz is die meeste van die inwoners in dié informele nedersettings nie op ’n behuisingswaglys nie. Sy sê dié mense moet so gou as moontlik hul name op ’n waglys kry.
“Ons weet reeds wie nie op die [behuisings-] waglys is nie.”
Volgens Swartz wil die wykskomitee boonop nie net inwoners “van hok tot hok” skuif nie. Sy sê hulle wil ’n verbetering sien.
Swartz sê die enigste uitdaging is dat die erwe baie klein is. Volgens haar kan inwoners nie ’n struktuur “laat staan maak” terwyl aan die ander kant gebou word nie. “Dit is hoekom ons in gesprek met die munisipaliteit moet tree en sê ‘wat van as ons mense tydelik in hul strukture huisves, terwyl hulle aansoek doen om behuisingsubsidies?’
“Die staat gee mense subsidies van R250 000. Om te kwalifiseer vir ’n behuisingsubsidie moet jy op die behuisingswaglys wees, ’n sekere inkomste verdien, afhanklikes hê of getroud wees of ’n lewensmaat hê.
Volgens Swartz is dit net huisgesinne wat na Transhex geskuif gaan word, en nie bendelede nie.
“Die polisie sal met hulle [bendes] deal.”
John Bulani, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit het ’n deeglike hersiening van alle informele nedersettings binne sy jurisdiksie onderneem.
Volgens hom is alle nedersettings geklassifiseer in ooreenstemming met die Wes-Kaapse strategiese raamwerk vir informele nedersettings.
Hy sê die doelwit is om die lewensgehalte vir inwoners van informele nedersettings te verbeter en bykomende behuisingsmoontlikhede deur middel van ’n vernuwende, mensgesentreerde, vennootskap-gebaseerde strategie te verskaf.
Bulani sê die Informele-nedersetting-ondersteuningsplan spesifiseer ontwerp- en verblyfalternatiewe, sowel as kommer oor kategorisering en prioritisering.
“Die betrokke gebied is een van ons omgewing se nuwe informele nedersettings, en ons werk aktief saam met plaaslike raadslede en ’n komitee om nuwe bewoners te beperk en verwante kwessies te hanteer. Die huidige huishoudelike opsomming is om betroubare data te bekom en dit vir implementering te gebruik.”
Hy sê vinnige verstedeliking en natuurlike bevolkingsuitbreiding het die regering se pogings om sy grondwetlike verantwoordelikheid na te kom, belemmer. Die BVM het ’n nul-verdraagsaamheidsbeleid ten opsigte van grondgrype. Ongelukkig, ondanks hofbevele en gereelde wetstoepassingsoptredes, het grondgrype toegeneem.
“Ons werk saam met plaaslike leiers en komitees om hierdie kwessie eers die hoof te bied, en dan om voorbereidings vir alternatiewe behuising te finaliseer.”
Volgens Bulani word gesubsidieerde behuising (huise of gedienste persele) gereguleer. Voordat hulle bystand ontvang, moet huishoudings vir ’n subsidie kwalifiseer; die vroegste toepassings in die databasis word geprioritiseer.
Hy sê inwoners moet op die Breedevallei se behuisingsvraagdatabasis registreer om geëvalueer te word.
Volgens hom oorweeg die BVM dit as ’n alternatiewe opsie in samewerking met die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (Menslike Nedersettings-tak).
Bulani sê die aanvanklike oorweging is om sulke geleenthede te verskaf deur die First Home Finance-subsidie (Help Me Buy A Home/FLISP).
Huishoudelike inkomste val tussen R3 501 en R22 000 per maand. Jy kan dalk vir die volgende behuisingsopsie kwalifiseer.
’n Belangrike voorvereiste vir die lewensvatbaarheid van hierdie opsie is voldoende grootmaat elektriese toevoer.




